ADVERTISEMENT:

 

generic image

Nuwe konsep wapenwet lok skerp reaksie

 

News  Date: 03 October 2011

 

Indien die huidige Suid-Afrikaanse regering hom nie hou by die letter en gees van die ooreenkoms wat tydens Kodesa bereik is nie, ontstaan die vraag of dié regering nog as ´n legitieme regering beskou kan word. Hierdie standpunt word vervat in die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU) se amptelike kommentaar op die jongste voorgestelde Wet op Gevaarlike Wapens.

Die SDLU sê verskeie aspekte van die voorgestelde wet is kommerwekkend. Die definisie is te wydlopend, die beginsel van noodweer word misken en magte word aan die Minister toegeken om besluite te neem wat net op sekere groepe van toepassing is.

"Dit maak die motiewe vir die instelling van die wet uiters verdag," lui ´n verklaring van die SDLU.

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, het gereageer na aanleiding van die voorgestelde wet wat in die Staatskoerant van 2 September 2011 gepubliseer is (no. 34579) en waarop gemeenskappe 30 dae tyd het om te reageer.

Hoffman sê bepalings in die voorgestelde wetgewing is strydig met beginsels wat in die Grondwet en in die gemene reg verskans is. Hy sê meer en meer wette plaas meer en meer beperkings op wetsgehoorsame burgers.

Mnr. Doors le Roux, veiligheidsverteenwoordiger van SDLU, het gesê volgens die voorgestelde wet se definisie van ´n gevaarlike wapen sou dit beteken dat ´n mes of ´n Leatherman (noodsaaklike werktuie op ´n plaas), ´n skroewedraaier of selfs ´n breinaald (kan iemand se oog uitsteek) nie besit of gedra mag word nie. Die sin “any other object possessed or carried, which is likely to cause serious bodily injury if it was used to commit an assault” kan doodgewoon na enige voorwerp verwys, ook na ´n hamer, ´n briewetas, ´n kamera of selfs ´n bottel drank. Hy sê die definisie is uiters gevaarlik, want dit gee aan die alreeds problematiese polisiediens ´n dekmantel om enige persoon te arresteer.

“Kyk gerus na mense wat uit ´n supermark stap. Hoeveel items in hulle plastieksakke voldoen aan dié beskrywing? Meer nog, elke wetsgehoorsame burger wat enige sodanige voorwerp besit of dra word nou beskou as ´n potensiële krimineel,” het Le Roux gesê.

Verder stel die wet voor dat selfverdediging nie as ´n redelike verskoning vir die besit of dra van ´n "gevaarlike wapen" beskou sal word nie.

“Noodweer word nou as tweedeklas en onaanvaarbaar uitgerangeer. ´n Werklike gevaarlike situasie,” sê Le Roux. Hy wys daarop dat noodweer behels dat ‘n persoon homself of iemand anders verdedig teen ´n wederregtelike aanval op sy of die ander persoon se lewe, liggaam, goed of eer (Snyman - Strafreg). Die vraag is of die voorgestelde wet wel nog noodweer ernstig opneem.

Le Roux sê die wet het skynbaar ten doel om wetsgehoorsame burgers die passiewe slagoffers van genadelose misdadigers te maak deur hulle te ontwapen. Hy vra ook of die regering bereid sal wees om al die boere te vergoed vir die skroewedraaiers, Leathermans en die "tante se breinaalde" wat nou nie meer besit of gedra mag word nie?

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines