ADVERTISEMENT:

 

Die Rooilipslang (Crotaphopeltis hotamboeia). Foto’s verskaf.

Hierdie Rooilippie hou geen gevaar vir mense in nie

 

Een slang wat baie algemeen in die streek voorkom en dikwels in tuine en huise aangetref word, is die alombekende Rooilipslang (Crotaphopeltis hotamboeia). In hierdie week se slangkolom bekyk ons hierdie slang van nader.

Alhoewel die Rooilip matig giftig is, het die gif van hierdie slang GEEN uitwerking op die mens nie. Die slang is ook ‘n agtertand-slang, wat beteken dat sy giftande diep in die bek sit, onder of agter die oog. “Baie mense beweer dat hulle kwaai kopseer kry nadat hulle deur hierdie slang gepik is. Daar is egter geen waarheid daaraan nie. Die kopseer is hoogs waarskynlik eerder van skrik, maar nie van die gif nie,” het slangkenner Jan “Slang” van Rooyen gesê.

Volgens Van Rooyen is hierdie slange aktief in die aande waar hulle jag maak op paddas. “Die padda word gebyt en die slang 'loop' dan sy giftande oor die prooi om die gif in te kry. Omdat die slang ‘n agtertand slang is, is die giftande nie hol soos in ander slange nie maar gegroef, soos dié van die Boomslang. Dus word die gif nie ingespuit nie, maar in gekou,” het Van Rooyen gesê.

Die Rooilip groei tot ongeveer 70 cm, maar kan tot ‘n meter lank word. “Ten spyte van hierdie slang se naam, het hulle nie altyd ‘n gekleurde bolip nie en kan dan mense verwar. ‘n Maklike manier om hierdie slang uit te ken, is die feit dat hy sy kop sal plat trek sodat die kop soos die van ‘n adder sou lyk. Die slang het ook altyd ‘n donker kraag op die agterkant van die kop en die kleintjies het ook spikkels. Die kleur van die lyf is gewoonlik donker- tot ligbruin met ‘n vuilwit pens,” het Van Rooyen.

Van Rooyen het weereens gesê dat die Rooilip geen gevaar vir die mens inhou nie en met rus gelaat moet word wanneer dit aangetref word. “Skakel eerder ‘n slangvanger om die slang te verwyder,” het Van Rooyen gesê. In dié verband kan inwoners Frikkie Venter skakel by tel. 082 058 7601. Vir meer inligting oor hierdie slang en ander slange kan Van Rooyen geskakel word by tel. 081 217 9213.

News in brief - Date: 18 February 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: