ADVERTISEMENT:

 

Bekende plaaslike slangvanger en -kenner Jan “Slang” van Rooyen het weereens inwoners versoek om nie slange sonder enige rede dood te maak nie. Foto verskaf.

Maak so wanneer jy 'n slang skielik raakloop

 

As jy in die warm Soutpansberg woon, is ‘n ontmoeting met ‘n slang een of ander tyd onvermydelik. Plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen sê egter mense kan die kanse op so ‘n ontmoeting minder maak.

“Ek kry baie oproepe en boodskappe van mense wat wil weet wat hulle moet doen om hulle huise veilig te maak teen slange. Dinge soos slang afskrikmiddels, diesel, paraffien, Jeyes Fluid ensovoorts werk nie om slange uit die huis of erf te hou nie - dis is ongelukkig net stories. Honde en katte werk ook nie. ‘n Hond sal wel ‘n slang aanval as gevolg van hulle beskermingsinstink en word dikwels gepik deur slange, met hartverskeurende nagevolge. Katte sal ook wel slange vang, maar bly gewoonlik weg van giftige en groot slange,” het Jan gesê.

Volgens Jan is kos, water en skuiling die enigste rede waarom ‘n slang op iemand se werf sal kom. “Deur die erf skoon te hou van bourommel of tuinvullis help baie, want dit verskaf skuiling en ook wegkruipplek vir prooi soos paddas, muise en rotte. Meeste slange maak jag op hierdie diertjies,” het Jan gesê.

Buiten vir bourommel en tuinvullis, het Jan gesê, lok honde en katte se kosbakke ook slange. “Muise en rotte eet net so lekker aan die troeteldierkos wat oorbly en hulle lok natuurlik slange. ‘n Permanente waterbron soos ‘n dier se waterbak is ook ‘n aantrekkingskrag, want die slange maak jag op die diertjie wat daar water drink. Om die kos en water van die grond af te lig sal baie help,” het Jan gesê.

Alhoewel dit dalk mooi mag vertoon, het Jan gewaarsku dat rotstuine, watertuine en digte plantegroei ook baie skuiling aan slange gee. Dit gesê, hou slange nie baie van beweging nie. “So deur baie om en deur die tuin te beweeg kan ook ‘n afskrikmiddel wees vir slange, omdat hulle ‘n vrees het vir die mens,” het Jan gesê.

Jan het weereens inwoners versoek om nie slange voor die voet en sonder enige rede dood te maak nie. “Slange is nie gevaarlik nie! Soms kan die omstandighede, soos met enige ander dier, slange gevaarlik maak. As mense wel op ‘n slang afkom, moenie die slang konfronteer nie. Dit is wanneer die slang homself sal verdedig,” het Jan gesê. Wanneer so ‘n ontmoeting tussen mens en slang plaasvind, het Jan gesê, is dit wys om dadelik vir ‘n oomblik stil te gaan staan, jou oë op die slang te hou en stadig weg te beweeg van die slang af.  “Slange reageer op beweging. In baie gevalle sal hulle self wegbeweeg. Tot dan moet ander diere, soos honde en katte, van die slang weggehou word. As die slang nie wegbeweeg nie, skakel iemand wat die slang kan kom verwyder. Moenie die slang probeer doodmaak nie, want dit is gewoonlik wanneer mense gepik word,” het Jan gesê.

Jan het inwoners uitgenooi om hom te skakel vir enige verdere inligting oor slange en ook om slange te kom verwyder. Hy kan geskakel word by tel. 081 217 9213.

 

News in brief - Date: 23 September 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: