ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Kleintjie Duvenhage (77). Foto verskaf.

Tannie Kleintjie het na aan die Here gelewe

 

Familie en vriende het die afgelope week swaar afskeid geneem van tannie Kleintjie Duvenhage van Louis Trichardt wat Vrydag, 15 Januarie, in die ouderdom van 77 jaar oorlede is.

Haar dogter Susara het vertel dat haar ma op 15 September verlede jaar ‘n beroerte gehad het. ‘n Paar dae later is daar blase aan haar voete opgemerk wat stukkend gegaan het en haar voete het begin swart word. Sy is toe met gangreen gediagnoseer.

Tannie Kleintjie het egter nie op die medikasie om die gangreen te stop gereageer nie en op 30 Desember is sy in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem. Vrydag [15de] het hulle haar teater toe geneem om die linkerbeen te amputeer. Die operasie was ‘n sukses, maar toe hulle haar van die teater na ‘n saalbed oorplaas, het sy ‘n hartstilstand gekry waarna sy oorlede is.

Wyle tannie Kleintjie is op 14 Maart 1943 in die destydse Potgietersrus gebore waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Ná skool het sy by die poskantoorsentrale in die eertydse Pietersburg begin werk waar sy haar man, Gert Duvenhage, ontmoet het.

Die liefde het geblom en op 9 November 1963 is die twee in Potgietersrus getroud. Kort daarna het hulle na Louis Trichardt verhuis. Die egpaar het vier kinders, Ansie (Olwagen), Susara (Venter), Theo Duvenhage en Thea (Stander) groot gemaak. Nadat Theo, die jongste, gebore is in 1973, het die egpaar in Julie 1973 na Ermelo verhuis.

Tannie Kleintjie en oom Gert het in September 2004 by Susara en haar man Lance op Hazyview gaan bly. Oom Gert is egter kort daarna oorlede en in 2006 het tannie Kleintjie saam met Susara-hulle na Louis Trichardt verhuis. Sy het tot en met haar dood by haar dogter gewoon.

“Sy was ‘n liewe mens gewees. Nooit kwaad gebly nie en het altyd die goeie in almal raakgesien. Sy het baie naby haar Here geleef,” het die familie gesê.

‘n Roudiens het reeds Woensdag vir wyle tannie Kleintjie op Louis Trichardt vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaasgevind. Sy sal Saterdag by haar man op Ermelo begrawe word. Tannie Kleintjie word oorleef deur haar vier kinders, broer Izak (Sakkie) Scholtz, suster Maud Myburgh, 13 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hulle tyd van hartseer. Die familie het ‘n spesiale woord van dank gerig aan Susara, Lance en Lara wat vir bykans 17 jaar na tannie Kleintjie omgesien het, dr. Emile Gaigher, ds. Corné Burger, ds. Jan Pretorius, die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, Maud wat altyd bereid was om te help en Tobie en Elize du Plooy vir die hulp en bystand in hierdie moeilike tyd.

News in brief - Date: 21 January 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: