ADVERTISEMENT:

 

Armand Roets met al die toerusting wat hy as borgskap vanaf Wilson ontvang het. Foto verskaf.

Borgskap gee Armand 'n hupstoot

 

Armand Roets is een van Hoërskool Louis Trichardt en die provinsie se belowende jong tennisspelers wie se naam die afgelope jaar al in die tweede plek verskyn het op die o.18-afdeling van die provinsiale ranglys. Sy tennisloopbaan het onlangs ‘n hupstoot gekry met die bekende handelsnaam Wilson wat besluit het om hom ‘n borgskap te gee.

Die 15-jarige Armand is opgewonde oor die jaar wat vir hom voorlê. Die borgskap is egter net ‘n halwe borgskap, maar The Golf Racket het aan Armand gesê dat indien hy sy punte deur die jaar verbeter, hy teen Oktober sal kan aansoek doen vir ‘n volle borgskap vir 2021.

Armand se borgskap begin op 1 Februarie vanjaar. Dit sluit in ‘n tennisraket, tennissak, tennisskoene, ‘n tennisuitrusting en ‘n tennispet, alles met die Wilson-handelsnaam.

Armand het gekwalifiseer op grond van sy prestasie op die provinsiale ranglys. Sy voordeel is dat hy reeds spelers van sy eie ouderdomsgroep oortref het. Ingevolge die borgskap moet Armand aan ten minste agt toptoernooie deelneem elke jaar. Hy moet ook ten alle tye die Wilson naam uitbeeld en aan drie promosies deelneem tydens die jaar.

Armand eet, slaap en lewe net tennis het sy ma, Jeneane, met ‘n groot glimlag gesê. “Hy speel al tennis vanaf sy laerskooljare af en ek is trots op hom vir hierdie groot prestasie in sy lewe,” het sy gesê.

“As jy op die baan stap, moet jy glo jy gaan wen, en indien jy verloor, moet jy goeie sportmanskap handhaaf,” het Armand gesê.

Die Roets-familie het hulle opregte dank uitgespreek teenoor Armand se afrigter, Tobias Lochner, vir al die harde werk wat ingesit word.

 

Sport - Date: 16 January 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Veruscka van der Linde

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: