ADVERTISEMENT:

 

Lede van Hoërskool Louis Trichardt se XCO-fietsryspan het rede om fees te vier, nadat hulle Saterdag as algehele wenners van die provinsiale XCO-skole bergfietsliga uit die stryd getree het. Dit was ná afloop van die Tour de Maroela op Lephalale. Foto verskaf.

Triegies weer tops!

 

Beide Hoërskool- en Laerskool Louis Trichardt het Saterdag, 18 September, hulle deelname aan die provinsiale skole XCO-bergfietsliga op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n skittervertoning in die derde en finale ronde van die liga, die Tour de Maroela, op Lephalale. Die twee skole spog gesamentlik met drie eerste plekke, ses tweede plekke, en drie derde plekke.

Hoërskool Louis Trichardt se Eliz-Mari Pretorius het nog ‘n eerste plek losgetrap in die junior-afdeling vir vroue, met spanmaat Michelle Steyn in die tweede plek. Die skool se Danelle Venter en Carla Enslin was onderskeidelik agste en negende. By die junior seuns het Triegies se Herman Veldman ‘n vierde plek ingepalm, met spanmaats Douglas Piorek sewende en Wulf Schwerdtfeger in die agste plek.

In die Youth-afdeling was Triegies se Jaques du Preez vyfde, met spanmaats Rosh van der Nest negende, Nduvho Mudugwe 12de, Rikus Smit 13de, WG de Villiers 16de, Werner van Ree 18de en Junior Schoeman 19de. In die Youth-afdeling vir meisies het Mieke Veldsman vir Triegies nog ‘n tweede plek verseker, met spanmaats Jessica Brandt derde, Isabella Jones vyfde, Geraldine Venter sewende en Nicoline Venter negende.

By die afdeling vir sub-junior seuns eindig Brendan Bruce tweede, met spanmaats Daniel Lee vierde, Matthew Lee sewende en Unarine Shotheli 14de. Triegies se Amelia Scheepers het ‘n derde plek in die afdeling vir sub-junior vroue behaal, met spanmaats Junel Joubert vierde en Leeanne van Heerden sewende.

Laerskool Louis Trichardt se trappers het ook goed skouer aan die wiel gesit, met Cara Bruce wat tweede en Chrizette Odendal wat agste geëindig het in die Sprogs-afdeling vir meisies. By die seuns Sprogs het Nicholas Acher ‘n tweede plek ingepalm, Peroux du Preez ‘n derde plek en Wian Joubert ‘n 13de plek. Aiden Bruce het nog ‘n eerste plek vir Laerskool Louis Trichardt verseker in die afdeling vir Nipper seuns, terwyl spanmaats Mauritz Meiring en Christiaan Odendal onderskeidelik eerste en tweede in die sub-Nipper vir seuns klaargemaak het.

Hoërskool Louis Trichardt se trappers het vanjaar die kompetisie in die stof gelaat en as algehele wenners van die skoleliga in die provinsie geëindig met ‘n totaal van 281 punte. Hoërskool Ellisras was tweede met 202 punte en Hoërskool Merensky derde met 178 punte. Triegies se Eliz-Mari Pretorius het eerste in die provinsie geëindig in die junior-afdeling vir vroue, met Michelle Steyn algeheel tweede. Brendan Bruce het algeheel tweede in die provinsie in die sub-junior seuns en Amilia Scheepers derde in dieselfde afdeling vir meisies geëindig.

Wat die laerskoolliga betref, het Laerskool Louis Trichardt algeheel tweede geëindig uit 15 skole met 217 punte. Pietersburg Oosskool was eerste met 327 punte en Dynamico derde met 125 punte. Triegies se Cara Bruce was algeheel tweede in die Sprogs-afdeling vir meisie in die provinsie, met spanmaat Nicolas Archer en Peroux du Preez algeheel tweede en derde in die afdeling vir Sprogs seuns. Aiden Bruce spog met ‘n algehele eerste plek in die Nipper-afdeling vir seuns. Ná afloop van die liga verwerf ses van Laerskool Louis Trichardt se trappers provinsiale kleure. Hulle is Nicolas Archer, Aiden Bruce, Maurits Meiring, Christiaan Odendal, Cara Bruce en Peroux du Preez.

 

Sport - Date: 24 September 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

Email:

ADVERTISEMENT: