

ADVERTISEMENT:

Daisy Date: 07 May 2015
“Eendag lank, lank gelede (ongeveer ‘n week gelede) in die Koninkryk van Waterpoort het daar onrustigheid gebroei onder die Ridders van die Kakiehemde.
“Nuus het rondom die braaivure uitgelek - en net so vinnig versprei ook - dat een van die ridders uit die kluis uit gefoeter het. (Op Waterpoort is geraamtes nie veilig in kaste nie.)
“Dit was per ongeluk. En dit was alles Nataniël se skuld.
“Sir Benjamin - (natuurlik nie sy naam nie, maar jy het tog sekerlik nie gedink ek sal iets weggee nie – dit bly die plaaslike koerant hierdie!) - sou mens nooit verdink daarvan dat hy enigsins anders as die ander ridders is nie. Hy smokkel ook so ligweg met waatlemoene hier rondom die middellyf, die son klits die inhamme op die voorkop waar die hare ylerig raak, hy dra two-tone hemde en Cats en stap flink en vinnig met bakarms om opdragte in Venda aan die plaasvolk te gee. Jag. Vang vis. ‘n Regte John Deere-man. ‘n Camel-man.
“Toe is dit Paasnaweek en Sir Benjamin gaan kuier in Jozi met sy stowwerige bakkie.
“Maar hy is toe nie al reisiger uit die Koninkryk van Waterpoort wat blink liggies toe verkas nie. ‘n Paar ander Ridders besluit om ook hulle fortuin te gaan soek by Monty (soos Montecasino in die plaaslike mond val). Dis ‘n ritueel wat al oorbekend is – of dit nou Waterkloof of Waterpoort is – die Ridders máák die fortuin en hulle wenches spandeer dit. Gewoonlik darem op die kinders en die huis (net om gewetens te lawe), maar vir een kinderlose naweek word die vrouens roekeloos en selfsugtig.
“So bevind die Waterpoort afvaardiging hulle by ‘n konsert van Nataniël. Gehou in ‘n ietwat obskure teater met ‘n reputasie dat produksies daar beslis nie Christelik Nasionaal van aard is nie. Maar die boervrouens het hulle manne saamgesleep met groot beloftes van skuins humor en goeie musiek. En brandewyn en coke terwyl die show aan die gang is.”
(Hierdie alles vertel Daisy vir Bernard met die nodige dramatisering. Bernard is nooit lank genoeg op een plek om die plaaslike skinner te hoor nie, selfs nie ‘n groot ene soos hierdie nie. In alle waarskynlikheid sal Bernard nie eers luister na ‘n gepraat oor ander mense nie – hy het ‘n groter wêreld en belangriker dinge om aan te dink en oor te praat. Maar hy kan nie Daisy se weergawe van die storie weerstaan nie – sy het nou eenmaal die vermoë om hom te laat lag.)
“Uitgevat in hulle Sondag-beste – die mans in langbroeke ingebaklei en die vrouens in swart nommertjies wat darem meer kaalte wys as by Nagmaal – sit die groep Waterpoortridders en hulle bestes reg onder die verhoog.
“En Nataniël stel nie teleur nie. Die show is flambojant en kleurvol, die produksie professioneel en afgerond. Die Ridders geniet heimlik Nataniël se manier om met Ons Mense se dingetjies en geite te spot. Natuurlik kan hy ook nie die herkoms van die groepie reg voor hom ignoreer nie. Kort voor lank betrek hy en twee ander akteurs Die Ridders en word die show uitgebrei na die skote van die manne en bo-op die tafel van die Waterpoorters.
“Dis toe die kollig op een kordate akteur fokus dat almal behalwe Nataniël skielik hulle asems insluk. Duidelik was dit nie bedoeling dat sy vere stola moes afval toe hy hom op een van die Ridders se knieë tuismaak nie. Al die grimering in die wêreld kon Sir Benjamin se oorbekende gesig nie kamoefleer nie.”
Daisy lag lank en lekker.
“En toe, Daisy? Wat toe?” vra Bernard tussen die lag deur.
“Glo dit of nie, toe kuier die hele bleddie spul saam. Toe die kat eers uit die sak is, het die arme Benjamin vrede moes maak dat sy dubbelle lewe nou op ‘n einde is. Miskien was hy selfs verlig daaroor. Maar kuier het die spulletjie gekuier! En heelnag was die refrein, ‘hy mag miskien ‘n moffie wees, maar hy is óns moffie’!”
Dis eers toe hulle weer by die huis is en almal saam braai dat hulle die ding weer met Benjamin ophaal. Meer spesifiek, toe die Ridders opstaan om die biltongboompie te gaan natlei.
Mor Jakobus onderlangs: “Net nie jy nie, Benjamin. Jy is nogal oukei vir ‘n Boeremoffie, maar selfs ‘n Boeremoffie gaan nie saam met ons piepie nie.”
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
