

ADVERTISEMENT:

Daisy Date: 11 June 2015
“Hoorie, Bernard, ek is nou nie eintlik ‘n kunstenaar nie, maar hierdie sonsondergange aan die voet van Soutpansberg is so inspirerend,” sê Daisy dromerig terwyl sy nog ‘n slukkie van haar pienk pophuisbier neem. “Hoe kan ons hierdie selfde kleure en atmosfeer inbring in die interieur van die gastehuis?”
Bernard frons.
“Daisy, ek betaal baie mense baie geld om sulke uitdagings te oorkom en dan vra jy mý? Hoekom bel jy nie liewers daai ontwerper met die lang skoene en die hande op die heupe en bespreek dit met hom nie?”
“My liewe Bernard, júís omdat hy lang skoene dra! Hy ken nie hierdie wêreld soos ons dit ken en liefhet nie – vir hom is die ontwerpe akademies en hy het geen van die passie wat mens nodig het om die plek uitsonderlik te maak nie. Partymaal vergeet jy dat ek ook ‘n stadsjapie was voordat die kremetarte hulle kloue in my ingeslaan het. Nou is die bos in my bloed – tot die mambas, skerpioene en romanspinnekoppe ook. Maar daai fyn pierewaaier wat net heen en weer vlieg en neersien op ‘n braaivleisvuur ... Hy kan nooit vinnig genoeg weer terug stad toe nie.”
Bernard bly lank stil terwyl hy kyk na die malse kleure van die vroegaand. Hy vat ‘n slukkie van sy brannas en Coke.
“My mooiste meisie, as jy eers so veeeeerlangs oor ‘n ding begin praat dan weet ek jy het reeds ‘n plan. So vat nou maar ‘n kortpaadjie en vertel sommer reguit wat agter daai blonde hare skuil!”
“Dis die plafonne, Bernard. Ek wil die plafonne verf sodat gaste die gevoel kry dat hulle onder die oop gehemelte slaap. As hulle wakker word in die oggend moet daar geen twyfel wees in watter kontinent hulle is nie. Hulle moet sommer dadelik wil opvlieg en Afrika belééf en absorbeer en in die aand moet die sonsondergange nog lank na sononder by hulle bly!”
Daisy se passie vir haar projek is vir Bernard onweerstaanbaar. “Ek wonder of ek ooit sal moeg word vir hierdie onvoorspelbare, kreatiewe, vrygeestige bondel pret,” dink hy stilweg en met ‘n groot glimlag.
“Hoeveel gaan hierdie petalje ekstra kos, Daisy?” probeer hy streng vra. “En wie de duiwel maak ‘n lewe daaruit om onderstebo te staan en verf heeldag?”
“Toemaar, Bernard, ek sal kostes op ander plekke ‘n bietjie snoei. Dit gaan regtig nie soveel ekstra wees nie – ons gaan daardie span gebruik wat gehelp het om die vlotte te bou. Hulle sal spesiaal van Koffiebaai af kom – daar is nie vreeslik baie werk vir hulle hierdie tyd van die jaar nie. Die grootste ding is dat hulle slaapplek en kos gaan nodig hê en natuurlik hulle eie klipharde musiek terwyl hulle werk. En ek vermoed dat hulle so af en toe die hippieding doen met papegaaislaai. Maar hulle is baie diskreet...”
Daisy sien hoe Bernard se lippe dun trek. Hy is ‘n wêreldburger en het al alles gesien en beleef, maar sy weet dat hy in sy hart maar eintlik konserwatief is. Sy is klaar spyt dat sy te veel oor die span uitgewei het. Haar ma het altyd gesê - ‘n man moet alles éét my kind; hy moet net nie alles wéét nie.
“Jy weet mos hoe goed werk die plaasvolk as hulle ‘n dampie maak, Bernard,” probeer Daisy wal gooi. “Hulle is maar dieselfde. Free spirits, jy weet? En dis nou nie eintlik asof hulle omring gaan wees van bure nie; daar is hope plek in die bos waar hulle hulle gewoontes privaat kan beoefen...”
“Daisy, wat ek hier sien aankom is nie modder nie. Ek weet hoe lyk modder, en hierdie is nie modder nie. Ek hou jou persoonlik verantwoordelik vir die gedrag van hierdie hippies. Jy sal hulle mooi moet vertel dat ek geen nonsens sal verdra nie. En jy sorg dat jy elke dag vir my foto’s stuur van die plafonne sodat ek kan seker maak hulle maak nie ‘n gemors nie. Anders gaan jy vir die volgende jaar ‘n werk hê om die dakke weer toe te verf...”
Daisy kom vlei haar neer op Bernard se skoot en gee hom ‘n groot druk.
“Ek belowe jy sal nie spyt wees nie, ou Barries. Hierdie spulletjie is vreemd, maar hulle kuns is asemrowend!”

ADVERTISEMENT:
