ADVERTISEMENT:

 

84. Daisy systap die stad se beurtkrag aanslae

 

Daisy  Date: 09 July 2015

 

Toe die krag afgaan is daar skielik doodse stilte. Net asof Eskom in fase 6 nou die mag het om  kuiers ook af te skakel. Daisy is onmiddellik kwaad. Woedend.
“Die bliksems. So wragtig net toe ek by jou kom kuier, Kathy! En nou kan ek nie eers my glas wyn of my sigarette kry nie ... Waar’s jou plan B, vriendin?”
“Bedaar, Daisy,” kom dit kalm van Kathy en sy maak lig met haar selfoon. “Dis maar deel van die lewe hier in die stad. Hier is jou wyn en jou sigarette. Sit doodstil, ek gaan net gou die kerse aansteek.”
“En net toe ons so ‘n heerlike filosofiese gesprek het oor persoonlike vryheid,” sug Daisy. “Dink jy daar is enige filosofiese meriete in die stikdonkerte, of dink jy dis eerder simbolies van Die Lewe in Donker Afrika?”
Kathy lag net. 
“Blykbaar is daar ongekende verkope van daai boek Heart of Darkness. Almal dink dis ‘n boek oor load shedding,” babbel Daisy voort. “Grote Griet, vriendin, jy kan my ook nou nie eers voer nie. Daai hoendertjie in die oond het nog nie eers ge-tan nie; sy lê nog ewe kuis met haar koue dytjies bymekaar! Het jy nie ‘n pak tjips nie? Ek is rasend honger.”
Voor die arme Kathy ‘n woord kan inkry, kry Daisy nuwe inspirasie: “Man, wat praat ek tog nou? Mens kan sien ek is besig om my stadsgei­te te vergeet daar op die plaas! Ons is omring van die heel beste restaurante en ek is seker daar is een wat nie deurloop onder beurtkrag nie. Kom, sit nog lippies aan en gryp jou handsak. Vergeet die tjips, ons gaan úít!” Sy sluk die laaste bietjie rooi wyn en gryp haar motorsleutels.


In die kar kry Daisy nog inspirasie. “Hoorie Kathy, aangesien ons nou deur Eskom verplig word om uit jou warm blyplek uit te kruip, kan ons maar netsowel die meeste maak daarvan. Wat sê jy daarvan dat ons op ‘n gastronomiese toer gaan? Skielik klink dit vreeslik boring om die hele nag op een plek deur te bring! Kom, jy kan solank begin dink wat jy vir ‘n voorgereg wil hê en waar hulle dit die lekkerste maak, dan begin ons daar. Of dink jy ons moet eers ‘n dop gaan drink? Dis nog lekker vroeg!”
“Aaaa, Daise, wat ‘n wonderlike idee! Daar is darem net nooit ‘n vervelige oomblik as jy naby is nie. Maar my begroting...”
“My idee, Bernard se kredietkaart!” giggel Daisy. “Ek doen dit nooit nie, Kathy. Hy kan nie verstaan dat ek nie af en toe beheer verloor met sy kredietkaart nie. So, kom ons verskaf hom bietjie rede om te kla dat vrouens nie die waarde van geld ken nie; netnou het hy niks om met die manne oor te gesels nie!”

Tien minute later sit hulle aan ‘n tafel buite op die stoep van The Brazen Head. Daisy het klaar gereël dat ‘n staanverwarmer nader geskuif word. Die kelner val amper om toe Daisy ‘n warm bier bestel.
“Daar is nie,” beduie hy. “Ons pak dit almal in die yskaste, daar is niks in die stoorkamer nie.”
“In daardie geval – kan jy asseblief dit in die mikrogolfoond warm maak? Een minuut op medium. Dit werk baie goed as jy dit sommer klaar in die glas ingooi – mikrogolfoonde hou nie van die doppies op die bottel nie,” lag sy vir die man se verbystering. Toe eers sien sy die geskokte gesigte rondom haar.
“Wat?” vra sy. “Dis winter. Dis koud. As mens koue bier drink, word jou hande koud. Ek hou nie van koud nie. Ek drink nie eers ys in die somer nie!”
“Dan het jy tequila nodig, meisie,” lag ‘n vreemde stadsjapie en hy lig sy arm op om ‘n bestelling te plaas.    (Word vervolg)

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines