ADVERTISEMENT:

 

112. Daisy het eina en Bernard ontgeld dit

 

Daisy  Date: 25 February 2016

 

Dit is ‘n Bloumaandag toe Daisy vroeg­oggend uit die bed val.

Voor sy die grond tref, begin sy al liederlik vloek. “Eina, eina, !@#$%&*!!!” sê sy hardop, oor en oor nes die EFF lede by die parlements­opening. En nes die parlementsopening is daar bitter min reaksie, behalwe ‘n ligte snork toe Bernard omdraai in die bed.

Daisy se repertoire van vloekwoorde is al min of meer uitgeput toe haar geliefde en beter helfte bewussynsvlakke behaal en lomerig agterkom iets is verkeerd.

“More, my mooiste,” sê hy onskuldig. “Moet ek vir ons gaan koffie maak, of is jy op pad?”
Daar blyk ‘n paar uitgesoekte woorde te wees wat Daisy teruggehou het om vir Bernard te antwoord. Hy is dadelik wakker en skuif regop teen die kussings.

“Daisy?”

“Moenie my Daisy nie ... Eina, ag eina !@#$%&*!!...” Sy skuif haar bene versigtig en lê dan verder doodstil op die vloer langs die bed.

“Nou wat wil jy hê ek moet jou noem vandag, my mooiste? Gerbera? Namakwaland? Of miskien iets meer eksoties soos Bellis Perennis?” spot Bernard en lag stuitig vir sy eie grappie terwyl hy op sy maag oor die bed uitgestrek lê en afkyk op Daisy.

“As jy weet wat goed is vir jou, bring jy asseblief dadelik vir my pynpille en water, Bernard,” fluister Daisy – ‘n betroubare teken dat sy op die punt is om haar formidabele humeur te verloor. “En ek praat nie van ‘n ou Panado’tjie nie, Bernard. Van daai groen kapsules wat ek gekry het toe my blindederm gebars het. ‘n Handvol.”

Bernard kom terug met yswater, pille, le­moensap, koffie en beskuit. Iewers in sy afwesigheid het hy skielik die idee gekry dat Daisy in pyn is. Groot pyn. En ook dat hy die situasie nie goed hanteer het nie, wat beteken hy moet nou baie, baie versigtig trap...

Hy sit die skinkbord langs Daisy neer. “Kom, Daise,” sê hy aansienlik meer simpatiek. “Sit regop, dan sluk jy die pille. Kom ons begin eers by twee, dan kan jy...”

“Bernard Young, net omdat jy nog nooit in jou lewe jig gehad het nie, beteken nie dat jy nou met my kan spot nie!” ontplof Daisy. “Ek kan nie regop kom nie en ek kan verseker nie die glas vashou nie!  @#$!! ... %^&*+#$!!!!!!, Bernard! Moet asseblief nie aan my stamp nie!”

“Jig, Daisy? Jy bedoel gout?” Bernard druk ‘n beskuit in sy mond om nie te lag nie.

“Alles JOU skuld. Dis al die gebraaiery en die T-bones die naweek. Ek het geweet ons oordoen dit heeltemal! Help my regop en sit drie van daai pynpille in my mond, Bernard. En dan die water en dan die lemoensap.

“Eina, hel Bernard! Moenie so hard aan my vat nie!”
‘n Uur later het Bernard eers die moed om te gaan kyk hoe dit met Daisy gaan. Sy lê nog steeds doodstil op die vloer langs die bed. Hy soen haar versigtig op haar voorkop. Sy word nie heeltemal wakker nie. Toe tel hy vir Daisy op en sit haar versigtig op die bed neer. Sy kreun toe sy omdraai en verder slaap.

Middagete bring Bernard vir Daisy pap en wors op ‘n skinkbord kamer toe. Sy is dadelik omgeklits.
“Weet jy niks van jig af nie, Bernard? Kyk hier – rooivleis en tamaties. En so wragtig nog vars tamaties in die slaai ook. Nee man, vat weg die gif!”

Sy probeer die skinkbord wegstoot en die inspanning bring ‘n nuwe sarsie kragwoorde. Toe begin sy verdrietig huil.

“Ek het só seer, Bernard. Ek wil nou my ma hê. Sy sou die een of ander reseppie gehad het om my beter te maak; my saggies ingevryf het...”

“Daisy, as jy net asseblêrrieblieftog vir my sê waar dit seer is, sal ek jou ook invryf. Maar ek dink jy moet miskien eers weer van daardie groen bomme drink. Ek sal ook vir Ousus bel en hoor wat ek moet doen...”

(Lees volgende week verder aan Daisy se kierie – Deel 2.)

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines