

ADVERTISEMENT:

Daisy Date: 16 June 2016
Bernard maak gewoonlik die koffie en beskuit en bring vir Daisy in die bed.
“Dis om op te maak vir al die oggende wat ek nié langs jou wakker word nie, my mooiste,” het hy al verduidelik.
Maar daar is nog ‘n goeie rede wat hy nie sommer in Daisy se geselskap wil noem nie. Sy pragtige blonde vrou is nie ‘n oggendmens nie. Meeste van die tyd is Daisy redelik vroeg op, maar hy het gou agtergekom dat vir Daisy om “op” te wees en “wakker” te wees, eenvoudig net nie dieselfde ding is nie! Om alles te kroon is sy geneig tot allerhande ongelukke voor sy wakker is ... Dus het Bernard dit op homself geneem om met kookwater te werk vroegoggend terwyl net ‘n neuspunt van Daisy onder die beddegoed uitsteek – sy het nie ‘n saak met Die Wakker Wêreld nie.
Vanoggend is anders. Baie anders. En nee, dis nie ‘n helder Daisy wat skielik langs die bed verskyn met ‘n volsonglimlag en ‘n skinkbord nie – Bernard is vasgepen op die bed. Dit voel vir hom asof Daisy oornag nog vier ledemate gegroei het. Met suiers.
Hy probeer homself eers versigtig losdraai uit Daisy arms en bene. Dit vorder nie – sy skuif nader elke keer as hy probeer wegskuif. Hy het ook nie geweet dat sy soveel krag in haar kniekoppe het nie. Of dat haar vingers so diep onder sy oksels ingegrawe is nie ... Vir ‘n oomblik langer wikkel hy homself onder die verekombers uit en voor Daisy haar oë oopmaak of haar stywer teen hom vasplak, val hy uit die bed uit.
Daisy sit kiertsregop in die bed en blaas opstandige haarflertse uit haar mond en gesig.
“En waar gaan jy heen, Bernard?” eis sy deurmekaargeslaap. Haar wange is so pienk soos die warm varkies op haar slaapklere.
“Koffie, Daisy. Koffie.”
“Kom klim jy dadelik terug in hierdie bed, Bernard Young! Dadelik!” Sy klink skoon gevaarlik – soveel soos ‘n massamoordenaar in pienk varkiepajamas kan wees.
“Dis JOU skuld dat ons vanoggend wakker moet word in hierdie koue en ysigheid ... As dit van my afgehang het, was ons al lankal terug op die plaas. Nee, deksels, Bernard. Dis nou ook nie asof jy simpatie gehad het gisteraand toe ek vir Flippie wou uithaal en op die bed installeer nie, nê?” tier Die Varkie voort.
Bernard trippel nog vir ‘n oomblik kaal langs die bed en gryp dan na ‘n kamerjas. Sy WINTERkamerjas. Dan krap hy in sy kas rond en haal skaapvelpantoffels uit.
“Ja oukei, Daisy. Dit is blêddie koud vanoggend, ek moet sê. Maar waar is Sunshine? Gewoonlik kry jy haar nie uit haar mandjie uit voor die son reg bokant Sandton City hang nie... Sunshine, Sunshine!” roep Bernard.
Daisy vlieg terug in die bed en trek die verekombers tot oor haar ore. Daar is ‘n gewoel onder die beddegoed en toe loer ‘n laggende babahond vir Bernard. “Hier’s ek! Hier’s ek!” skree haar hele wriemelende lyf. “Klim terug onder die kombers,” skree Daisy.
“Dit gaan noodmaatreëls verg vanoggend,” dink Bernard hardop terwyl hy uitwyk. “Niks minder as warm sjokolade én melkkoffie nie. Maar wragtig – miskien moet ons later OBS drink saam met ontbyt...”
Nou kyk – dis nie verniet dat al Daisy se vriendinne swymel oor haar man nie. Dis nie net sy blou oë of rykdom of afkoms nie. Bernard is in alle opsigte ‘n “nice” man. In Waterpoort terme wat almal verstaan: ‘n @!#$%^&*!!! nice man.
In minder as ‘n uur is Bernard terug met ‘n oorlaaide skinkbord – ‘n pot warm sjokolade, ‘n pot melkkoffie, boerbeskuit, Woolies skons met kaas, en ... plaatkoekies. Warm. Vars. Geurig.
Sunshine kry eerste snuf in die neus. Nog voor Daisy dit regkry om haar bokant en onderkant van mekaar te onderskei onder die verekombers, staan Sunshine al langs Bernard en kyk met bewondering op na hom. Haar stert swaai.
Daisy sukkel om haar hare uit haar gesig te kry terwyl sy hoër teen die kussings opskuif. Die eerste paar slukke uit die beker wat Bernard geduldig vir haar aangee, bly ongedefinieër. Sy steek haar hand uit om ‘n beskuit te vat en wonder hoekom Bernard dit in sy kop kry om botter en kaas bo-op die beskuit te smeer. Haar neus maak haar uiteindelik wakker en haar oë strek oop toe sy die eerste happie proe...
“Skuif op, Daisy. Magtig dis koud! Laat ek terugklim in die bed langs jou. Ek moes vir jou geluister het en my afsprake gekanselleer het toe ons gehoor het van die koue front!” Bernard is die ene koue hande en voete teen Daisy se pienk varkies.
“Dink jy nie ons verdien om iewers die somer te gaan opsoek nie? Wat van ons kry ons pêlle bymekaar en verkas Griekse eilande toe vir die volgende week?” vra hy geïnspireerd.
“Is jy nou heeltemal laf, ou Barries? En uitverloor op hierdie spread wat jy vir ons elke oggend gaan maak solank die koue front hou?”

ADVERTISEMENT:
