

ADVERTISEMENT:

Daisy Date: 30 June 2016
Dis die Groot Griep wat Bernard red van ‘n dilemma.
Hy was skaars terug by die huis met ‘n Cruiser-vol medisyne vir Daisy toe hy self alle lus vir die lewe verloor.
Eers dink Daisy haar man is sommer net skuinsweg befoeterd en dat hy hom in sy grot agter ‘n doringtak onttrek het, maar toe vang sy hom op die bank in die sitkamer slaap. In die middel van die dag. En dit terwyl hy eintlik besig was om vir haar Earl Grey tee te maak. Sy gooi hom toe met ‘n kombers en gaan krap rond in die kombuiskaste vir als wat sy nodig het vir hoendersop.
Haar ma het geglo aan hoendersop. “Die Joodse mammas glo vas dat hoendersop soos antibiotika werk, my kind. As mens enige griep of verkoue vroeg genoeg behandel met baie Vitamiene C en hoendersop, kry jy vinnig die geite uit jou sisteem. Dit het ek nou al met my eie oë al te veel keer gesien om dit nog as outannie stories af te skryf...”
Daisy sug. Sy wens haar ma was nader as die hemel aan haar. Dood is ‘n demmitse ding. Sy sal nou maar ophou jammer wees vir haarself en vir Bernard versorg. Sunshine spring teen haar op en haar stert waai kompulsief.
“Dis okei, Sunshine. Ek sal nie van jou vergeet nie. En jy kan maar nog steeds agter my rug inklim vir ‘n middagslapie. Laat ek net eers die sop aan die gang kry. Gaan piepie solank buite ... as die werfhonde jou toelaat. Ek kom nou help.” Daisy verdwyn in ‘n nare hoesbui badkamer toe om haar neus te gaan blaas.
Na haar middagslapie saam met Sunshine gaan kyk Daisy dadelik in die sitkamer of Bernard nog slaap. Sy voel skuldig omdat hy nog niks gehad het vir middagete nie en vat vir hom ‘n glas lemoensap en twee Panados saam.
In die sitkamer hoor sy Bernard praat. Sy sit die lemoensap op die koffietafel neer en mik om langs hom op die bank te gaan sit. Daisy skrik toe sy vir Bernard sien – sy pratery is nie op ‘n selfoon soos Daisy aanvaar het nie. Die man is papnat gesweet en doodsbleek. Hy kom nie eers agter Daisy is by hom nie. Sy pratery is oor en oor van boomklim en vlieg. En tennis speel.
“Pappa sal jou als leer, seun. En ek sal saam met jou in die boom gaan klim – dis wat pappas doen vir hulle kinders. Dan klim ons hoog in die skoppelmaaiboom en ek bou vir jou ook ‘n skoppelmaai. Tussen die takke. By die hadedas. Dan vlieg ons...”
Daisy vlieg op en gaan haal ‘n louwarm waslap in die badkamer. Sy vee Bernard se gesig af en vou die kombers oop sodat hy kan afkoel. Sy luister hoe hy herhaaldelik met sy seun praat. Hom vertel van waar hy al orals in die wêreld was en wat hy alles vir hom gaan wys.
“Nie soos my pa nie, my kind. Nee – hy was nooit by die huis nie. Ons sal krieket speel en skaak speel en met karretjies in die modder...” Bernard rol op die bank rond. Sunshine spring teen die bank op en kyk bekommerd na haar Ander Mens. Dan kyk sy na haar Ma-mens en sy weet hierdie is nie ‘n speletjie nie. Iets is verkeerd.
Na ‘n lang gesukkel en ‘n onsamehangende gesprek wat in ander omstandighede vreeslik komieklik sou wees, kry Daisy dit reg dat Bernard die pilletjies met lemoensap afsluk. Sy onthou dat Ousus altyd haar koorsige kinders in ‘n louwarm bad laat week het. “Onthou Daisy – nié koud nie. Net so liggaamstemperatuur. Dis die gouste wat jy koors kan afbring. As dit nie help nie, is die kind regtig dokter-toe siek!”
Toe dit lyk of die Panados kortstondig vir Bernard tot verhaal bring, tap Daisy badwater in. Sy sukkel Bernard se klere af, spartel hom in die bad in en gaan maak die bed met vars linne op. Nes haar ma dit sou doen, weet sy.
Maar die griep gryp haar daarna styf vas. Sy is meer uitgeput as Bernard toe hy uiteindelik in die bed is. Daisy val in die bed langs hom en maak die beddegoed oop vir Sunshine om ook in te spring. Sy het nie eers krag om vir Bernard van die hoendersop te gaan opskep nie.
Wie gaan na hulle kyk? Wie gaan bietjie nurse en sop aandra?
Daisy voel-voel na haar selfoon.
(Word vervolg)

ADVERTISEMENT:
