ADVERTISEMENT:

 

“Wat ‘n skande - skaam julle om hulle so in hul kwaad te sterk”

 

Letters  Date: 12 September 2014

 

Ek verwys na die berig in verlede week se Zoutpansberger onder die opskrif “Prefekte besluit om self skoon te maak” (p11) en weer sê ek: Wat ‘n skande! Skaam jou!

Eerstens aan diegene wat as on-­opgevoede, on-beskaafde, ‘on-menslike’ wesens hier tussen ons beweeg en rommel en gemors en afval onbeheerst op enige plek rondgooi … Skaam jou! (Wonder of jy weet wat die woord ‘skaam’ beteken?)

Tweedens, aan diegene wat ver­onderstel is om, as deel van jou daag­likse plig en waarvoor jy maand vir maand deur die plaasli­ke munisipaliteit (met óns as die inwoners van hierdie dorp se swaar­verdiende geld) betaal word, vir die volle aantal ure van elke werksdag jou plig te doen deur die bogenoemde groep se gemors op te ruim … Skaam jou! (as jy kán, bygesê). Of is jy ook maar net deel van die aanvaarbare norm in die Nuwe Suid-Afrika (NSA) van “Doen so min moontlik en demand so veel moontlik”?

Derdens, aan die plaaslike munisipaliteit wat veronderstel is om toe te sien dat die bogenoemde groep werkers hulle pligte nougeset nakom. Jy kry (nié verdien nie) ook elke maand van óns geld ‘n vet salaris om jóú werk te doen deur beheer uit te oefen. Skaam jou! Of is jy ook maar net deel van die NSA wat so min as moontlik doen en so veel as moontlik verwag en vat?

Vierdens, aan die onderwyser van ons kinders wat dink jy doen ‘n ‘wonderlike edele’ daad deur ons kinders so te verneder en aan allerhande kieme bloot te stel deur van hulle te verwag om ander se gemors op te ruim net om jou met jou ‘edele’ daad te help. Jy wat veronderstel is om die voorbeeld te stel. Hoekom gaan maak jy nie eers uit jou eie en alleen die strate in jou spaar tyd skoon en sien of daar van die kinders is wat lus het om jou uit hul eie wil te gaan help nie? Skaam jou! Jou plig as opvoeder is om toe te sien dat die kinders wat deur jou hande gaan sodanig opgevoed word dat hulle hulself nie ook soos die eerste groep on-opge­voede en on-beskaafde wesens in die beskawing gedra nie. As jy dít kan regkry, het jy jou deel gedoen.

Laastens, aan elke lid van ons gemeenskap wat ook so ‘edel’ voel en so graag aan sekere aksies (veral dié wat in die publieke oog is) wil deelneem deur ánder se werk vír hulle te doen (sodat hulle nóg minder hoef te doen): Moenie al die ánder arme siele se pligte vergeet nie, elke dag as ons nie die water, waarvoor ons betaal, in ons krane sien nie, onthou om te gaan kyk waar die probleem lê en niks doen nie, sodat jy hom kan help om dit meer effektief te doen. As die krag af is sal ons jou skakel, en moet tog asseblief nie van al die ou gaatjies in ons paaie vergeet nie (dit behoort jou vir ‘n tydjie besig en in die publieke oog te hou). Onthou, die arme, onskuldi­ge, oorwerkte werkers maak staat op jou!

Terloops, daar is ‘n láááng gat in die teer voor my huis wat al twee jaar gelede deur die ‘ywerige’ munisipale werkers gekap is en nóú nog nie herstel is nie. Wat doen jy Saterdag?

- Keelvol-vir-NSA en al die ‘edeles’ (Makhado / Louis Trichardt)
(Brief verkort - Red)

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines