ADVERTISEMENT:

 

“Is Louis Trichardt werklik nog die skilderagtige dorpie van weleer?”

 

Letters  Date: 06 November 2014

 

Dit is darem voorwaar goeie nuus dat ons dorp nou weer bekend staan as Louis Trichardt en vertrou dat almal nou daarby sal berus, of gaan daar weer ‘n kinkel in de kabel wees?

Mens wonder net wat die koste-aspek gaan wees om die nodige veranderinge weer in werking te stel, wat die belastingbetaler sal moet opdok en hoe dit dienslewering deur die plaaslike munisipaliteit gaan affekteer? Toe die Stadsraad van Tswhane in Pretoria ‘n tyd gelede van die strate met volksvreemde name bombardeer het, was die inwoners se reaksie onomwonde dat dit ‘n groot vermorsing van geld was en wat dan ook ‘n deel van die betoog was teen die naamsverandering. Sit ons hier in Louis Trichardt nie nou met dieselfde probleem nie?

U weet toe RSG die nuus op die radio bekend gemaak het, is verwys na die “skilderagtige dorpie aan die voet van die Soutpansberg…” en wat nou weer bekend sal staan as Louis Trichardt. Pragtige woorde, maar is dit nog die skilderagtige dorpie van lank gelede, of was die nuusmense maar oningelig?

Ek wens hulle kan eerstehands kom ondersoek instel om te sien in watse verwaarloosde toestand die dorp regtig is. My beskeie mening is dat nie meer as 20% van die inwoners meer omgee, veral as mens na die tuine en sypaadjies kyk. Ons almal weet van die waterprobleme, maar dan gebruik ‘n ou maar ‘n hark om die blare, papiere en kospakkies te verwyder. As die slaggat hande uitruk voor jou deur, gooi die ding toe en moenie wag vir die munisipaliteit om dit reg te maak nie. Sou ons net [almal wat ‘n huis besit] dit alleen doen, sal die dorp al klaar beter lyk.

Groot kwelpunte is die volgende:
Rommelstrooi: Die taxi-bedryf is hier van die groot sondebokke. Ons almal weet waar die OK Sentrum [ou Ricky’s] geleë is - kyk wat rig die ‘parksitters’ daar aan, terwyl hulle vir hul klante wag. So ook bestuurders van swaar voertuie wat daar oornag – ‘n morsige spul. Mense wat eet in die parkie laat hulle rommel langs die asblikke en op ‘n Maandagoggend lyk dit of ‘n orkaan die plek getref het!

Kan van ons agbare Raadslede wat omgee nie voorstel dat rommelstrooiers offisieel vasgevat en beboet word nie [dit gebeur wel in sekere Afrika lande]?

Kom laat ons mense wat nog omgee probeer om ons dorp weer skilderagtig maak en stel ‘n voorbeeld vir die buurman wat dalk nie omgee of beter weet nie. Probeer weer om Louis Trichardt in ‘ERE’ te herstel!!!!

- Inwoner (Louis Trichardt)

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines