

ADVERTISEMENT:

Letters Date: 04 June 2015
Hiermee wil ek graag reageer op die artikel oor nagape in u koerant van 29 Mei.
Alhoewel ek toegee dat die bosnagaap (Otolemur Crassicaudatis) beslis nie die tokoloshe, of die sogenaamde bergslang soos in sekere ou plaaslike stories beweer word, is nie, is hy ook nie die onskuldige plantetende diertjie soos wat me. Linden beweer nie.
My ondervinding spreek die teendeel en ek het hulle oor die afgelope 30 jaar leer ken as omnivore met ‘n aggressiewe kant wat nie ‘n vleishappie sal versmaai nie.
Bosnagape is volop in Levubu en toe die kinders klein was het ons baie aande teen skemer op die gras gelê om hulle dop te hou as hulle hul slaapplek in die palmboom verlaat en op hulle voedingsroetes vertrek. Hulle het altyd gespring na die Bottlebrush en vandaar via die Telkom-lyn links na die doringboom en vandaar verder na die besproeiingsdam of regs langs dieselfde Telkom-lyn via die maroelaboom na die res van die tuin beweeg.
‘n Familie muskejaatkatte woon ook in die tuin en hulle en die nagape is geswore vyande. Ons het menige geveg tussen die twee spesies in die middernagtelike ure aanskou en ook baie klein muskejaatkatjies oor die jare grootgemaak wat na so ‘n verbete geveg op die grond beland het. Die betrokkenheid van kleintjies, altyd in dieselfde klimop begroeide avokadoboom, laat die vermoede ontstaan dat die nagape die aggressors is met die doel om die baba muskejaatkatte as ete te verkry.
Een nag het ek en my dogter gesien hoe ‘n nagaap die muskejaatkatmannetjie in ‘n jong stinkhoutboom opgejaag en vasgekeer het. Hy kon net ontsnap na ons in die geveg ingemeng het en die nagaap die hasepad gekies het. Ek kan nie een keer onthou dat die muskejaatkatte die oorhand in hierdie onderonsies gehad het nie.
Voëlneste in die tuin is ook nie veilig nie en ons het oor die jare vele gestroopte nessies op hulle roetes aanskou. Plaaslike pappegaaiboere rapporteer ook verliese van duur voëls wat deur bosnagape deur die ogiesdraad van die hokke aangeval word. In meeste gevalle word liggaamsdele van die lewendige voëls sommer deur die draad afgeskeur.
Ek het ook op 23 Mei 2011 in die Letaba ruskamp in die Krugerwildtuin aanskou hoe ‘n groep van hierdie diere ‘n jong luislang bo in ‘n palmboom vaskeer.
Hulle is beslis nie die saggeaarde vegetariërs soos me. Linde beweer nie.
- Pietman Muller (Levubu).

ADVERTISEMENT:
