

ADVERTISEMENT:

Letters Date: 07 January 2016
Hoërskool Louis Trichardt sal op 22 en 23 Januarie ‘n unieke reünie hou wanneer die skool sy 70ste bestaansjaar vier.
“Alle oud-leerlinge is welkom om die naweek ‘n draai te maak en te kom saamkuier,” nooi een van die organiseerders, Dopper Kruger. Die oudste leerlinge wat reeds sy teenwoordigheid bevestig het, is oom Hansie Uys van Louis Trichardt wat deel was van die skool se eerste matriekklas in 1947.
Hoërskool Louis Trichardt het begin op 16 Januarie 1946 en het voorsiening gemaak vir Standerd 6 tot 9-leerlinge. (Graad 8 tot 11) In 1946 het die skool met 358 leerlinge gespog, waarvan 84 Standerd 6-leerlinge (Graad 8) was. Daar was toe nog geen matriek met die eerste matrieks wat eers in 1947 hul skoolloopbaan met ‘n 86% slaagsyfer voltooi het.
Hierdie eerste leerlinge van die skool is onderrig deur 27 onderwysers onder die leiding van mnr. Brönn as hoof. Die eerste hoofseun en -meisie was Hendrik Roos en Corli van der Vyver.
As deel van die reünie word daar ‘n gesellige bring-en-braai beplan vir die Vrydagaand (22ste) by die sportveld oorkant die Soutpansberg Gholfklub vanaf 18:00. Die volgende dag kan daar vanaf 10:00 by die skoolsaal byeengekom word vir ‘n lekker kuier en middagete (spitbraai) wat om 13:00 bedien sal word. Kostes vir die middagete beloop R100 per persoon. Hierna kan al die verskillende jaargroepe uitmekaar gaan en aangaan met hul eie reëlings.
Vir meer inligting, skakel Dopper by tel. 083 419 4524 of stuur ‘n e-pos aan hom na [email protected].

ADVERTISEMENT:
