ADVERTISEMENT:

 

Versorgingshuis vir streek se babawesies

 

News  Date: 30 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Gemeenskapshulp vir wees- en "weggooibabas" gaan in die dorp gevestig word.

'n Deurgangshuis vir die versorging van pasgebore kinders is reeds in gevorderde beplanning. Lede van die gemeenskap wat met babaklere, toerusting en geld kan help, word versoek om skenkings vir die doel aan die AGS Uitvoerende Welsynsraad te maak.

Luidens 'n mediaverklaring vandeesweek, word 'n deurgangshuis beoog wat ses babas op 'n keer kan versorg, totdat hulle vir aanneming of pleegsorg uitgeplaas kan word. Die kinders word normaalweg vir nagenoeg drie maande in die deurgangshuis versorg. Professionele dienste word verleen met behulp van lede van die AGS se Uitvoerende Welsynsraad.

In die deurgangshuis word die babas versorg deur 'n voltydse pleegmoeder en versorgers. Deur keuring en opleiding word geskikte ouers gevind en toegerus om die kinders aan te neem of in pleegsorg te neem.

Talle pasgebore kinders word óf in hospitale agtergelaat, óf elders bloot weggegooi. Van die kinders is weeskinders, wie se ouers weens MIV/VIGS gesterf het, maar hulleself is nie noodwendig ook met die virus besmet nie.

In die AGS se kinderdorp, Villa Lubet, word sogenaamde weggooikinders en Vigs-wesies versorg, totdat hulle mediese status vasgestel is en hulle vir pleegsorg of aanneming uitgeplaas kan word. 'n Toegewyde maatskaplike span doen moeite met die keuring van aanneem-ouers en die plasing van kinders in Suid-Afrika en in die buiteland, sodat die kinders as deel van 'n gesin kan grootword.

Plaaslik word gevestigde infrastruktuur nou vir die deurgangshuis gesoek.

Mense word ook versoek om matrassies en beddegoed vir babas, sowel as klere vir kinders van 0-4 maande oud, vir die projek te skenk. Geldelike bydraes word ook verwelkom om die besoldiging van die noodsaaklike personeel en helpers te help dek.

Verdere besonderhede kan verkry word deur Hanna op 072 493 4355 of Collette op 082 777 1037 te bel.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines