ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Kinders se kennis oor die Bybel skokkend

 

News  Date: 28 November 2011

 

Godsdiensonderrig onder die skoolgaande jeug moet ernstig herdink word. Dit is die mening van die Rapportryersvereniging na ‘n onlangse Bybelkennis-opname onder Afrikaanssprekende skoolkinders skokkende resultate opgelewer het.

Die Rapportryers, ‘n nasionale Afrikaner-kultuurorganisasie, het die afgelope jaar ‘n opname gemaak in Afrikaanssprekende skole in al nege provinsies oor die kennisvlak van die skoolgaande jeug aangaande die Bybel.

Altesaam 1 971 leerlinge in Graad 7 en 2 311 leerlinge in Graad 11 het ‘n maklike, onvoorbereide 20-punt vraestel geskryf wat die mees elementêre vrae oor die Bybel bevat het. Die vraestel het skokkende resultate opgelewer, aangesien daar aangeneem was dat die oorgrote meerderheid Christen Afrikaanssprekende kinders òf in die skool, òf in die Kerk, òf in die ouerhuis onderrig word in elementêre kennis van die Bybel. Die Graad 7's het ‘n gemiddeld van 46% behaal en die Graad 11's ‘n gemiddeld van 36%.

“Daar is oorgenoeg bewyse van die toename in die verval van moraliteit onder Suid-Afrikaners en veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners,” het die Rapportryers in ‘n verklaring gesê en die verval toegeskryf aan gebrekkige Bybelonderrig.

Volgens die president van die Rapportryerbeweging, mnr. Ruurd van der Wal, het Bybelonderrig op skool en die onderrig by kerke jammerlik gefaal die afgelope 20 jaar. Hy is van mening dat Afrikaners hul kinders en hul geloof gefaal het. Gevolglik gaan die Rapportryers, saam met ander organisasies wat hierdie saak steun, ‘n ernstige beroep op die Onderwysdepartement doen om godsdiensonderrig op skole verpligtend te maak.

“Alhoewel die Rapportryers ‘n Christelike organisasie is, erken hulle die reg tot godsdiensvryheid.  Aangesien alle godsdienste geskoei is in sekere mate op goeie dade teenoor jou medemens sal dit, ongeag watter godsdiens beoefen word, tot die voordeel van die Suid-Afrikaanse samelewing wees as godsdiensonderrig teruggebring word in skole,” het Van der Wal gesê.

Hy het bygevoeg dat die Rapportryers ook van plan is om hierdie uitdaging te bespreek met kerkleiers, aangesien die resultate van die opname ook aandui dat godsdiensonderrig in kerke grootliks tekortskiet.

Meegaande is die vraestel wat aan die Graad 11-leerlinge gegee is. Die vraestel het uit 20 getel.

* Wat is die grootste en eerste gebod?  (1)

* Waarmee sal Johannes die Doper vervul wees?  (1)

* Na Jesus se doop het die Heilige Gees in die gestalte van watter voël op Jesus neergedaal?  (1)

* Op watter dag van die week is Jesus opgewek uit die dood? (1)

* God het aan Abraham opdrag gegee om sy seun te offer. Wat was die seun se naam? (1)

* Wat het soos tonge verdeel en op die mense gekom tydens die uitstorting van die Heilige Gees? (1)

* In watter rivier is Jesus gedoop?  (1)

* Afgesien van Spreek in tale, noem enige ander twee gawes van die Heilige Gees? (2)

* Afgesien van Liefde, noem enige ander twee vrug(te) van die Heilige Gees. (2)

* Wat was Paulus se naam voordat hy Jesus op pad na Damaskus ontmoet het? (1)

* Watter een is volgens Paulus die grootste? Omkring die korrekte antwoord. Geloof, Hoop of Liefde (1)

* Wat is die laaste boek in die Nuwe Testament? ( 1)

*Wie het Psalm 23 (Die Here is my Herder) geskryf? (1)

* Wat was die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het? (1)

* Watter werk het Josef (Jesus se pa) gedoen?  (1)

* Noem enige twee van die 10 gebooie? (1)

* Volgens die Ons Vader-gebed, waarvan moet ons verlos word? (1)

“Toets gerus u kennis van die Bybel deur die vraestelletjie te beantwoord … en beoordeel self of u saamstem dat ons voor ‘n baie groot uitdaging staan,” het Van der Wal gesê.

Volgens Van der Wal kan die Rapportryers onmiddellik ‘n uiterse groot verskil maak in die algemene kennis van leerlinge oor die Bybel, indien alle skole aan die nasionale Bybelvasvrae deelneem. Die studiemateriaal word afgebaken en word sorgvuldig deur ‘n komitee uitgekies om die leerling die belangrikste en mees gebalanseerde dele in die Bybel te laat leer.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines