ADVERTISEMENT:

 

Boere wil paaie teen vragmotors beskerm

 

News  Date: 30 January 2004

 

MOPANE – 'n Voortslepende krisissituasie, wat regstreeks tewyte is aan die oprigting van die Baobab tolhek, is nou besig om op hoë vlak opslae te maak.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap en die betrokke provinsiale en nasionale departemente is vandeesweek in 'n prokureursbrief dringend versoek om die relevante gemeenskapsleiers te ontmoet, om probleme te bespreek wat ontstaan het as gevolg van die oprigting van die tolhek. Die brief volg op amptelike reaksie, nadat die gemeenskap moes ingryp om 'n noodsituasie te hanteer.

Die plaaslike gemeenskap in die omgewing van die Boabab-tolhek het ingegryp om die verwoesting van sekondêre paaie te voorkom, wat ernstig beskadig word deur swaar vragmotors uit die buiteland wat die tolhek ontduik. Die afgelope twee weke word alle swaar vragmotors weggekeer van die gevaarlike sekondêre grondpaaie en terug herlei na die N1 tolpad. 'n Gemiddeld van meer as 30 swaar voertuie is gedurende die tydperk daagliks van die sekondêre paaie weggekeer.

Die aksie word op georganiseerde wyse deur plaaslike lede van die TLU behartig. Die bestuurders en eienaars van die swaar voertuie word in 'n geskrewe nota ingelig oor die wesenlike gevaar en skade wat veroorsaak word wanneer hulle die sekondêre paaie gebruik, wat nie ontwerp is vir dié soort verkeer nie.

Die gemeenskap het tot die aksie oorgegaan, nadat herhaalde vertoë aan al die tersaaklike owerhede oënskynlik op dowe ore geval het.

In reaksie op 'n vorige versoek sê die Streekbestuurder: Noordelike Streek, van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap dat die agentskap bewus is daarvan dat sommige swaar voertuie die betaling van tolgeld vermy deur gebruik te maak van distrikspaaie. Hy sê die agentskap het geen jurisdiksie oor hierdie paaie nie en is derhalwe nie gemagtig om swaar voertuig beperkings op die spesifieke paaie te plaas nie. Nogtans word onderhandel met die provinsiale Departement van Vervoer om behulpsaam te wees met die koste van die nodige padtekens om voertuie se bewegings te beperk, indien so 'n versoek ontvang sou word.

Die streekbestuurder van die agentskap het hom ook bereidwillig verklaar om deel te neem aan enige forum ten einde 'n oplossing vir die probleme te vind.

'n Woordvoerder van die betrokke gemeenskap, wat ingegryp het om die lewensbelangrike sekondêre paaie te beskerm, het vandeesweek gesê die Tolagentskap trek nou regstreeks voordeel uit die aksie van die gemeenskap om swaar voertuie terug te kanaliseer na die N1. 'n Amptelike brief aan Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap lui: "Die aksie is geloods nadat herhaalde versoeke aan die LUR vir Vervoer om in te gryp, geïgnoreer is. Aangesien sekondêre paaie óf glad nie, óf baie swak deur die owerheid onderhou word, het daar 'n noodsituasie ontstaan en moes die gemeenskap ingryp. Die gemeenskap kan egter nie onbepaald met hierdie aksie voortgaan nie en dit is uiters dringend dat die betrokke owerheidsamptenare met die verteenwoordigers van die gemeenskap moet kom praat om 'n oplossing te probeer kry. As dit nie gebeur nie, en 'n bevredigende oplossing nie gekry kan word nie, sal daar stappe deur die gemeenskap gedoen word wat bepaalde negatiewe gevolge vir u agentskap kan inhou."

Die brief beklemtoon dat die wetsgehoorsame en vredeliewende gemeenskap gedwing word om stappe te doen om reaksie van die owerheid te kry.

In die brief word die Padagentskap daarop gewys dat die agentskap homself nie van die owerheid kan distansieer nie, aangesien die probleem enersyds ontstaan het as gevolg van die daarstel van die tolhek, en andersyds as gevolg van die laksheid van die regering om iets te doen aan die verslegtende situasie, wat ontstaan het weens die instel van die tolhek.

"Ons versoek u asseblief dringend as 'n party tot die probleem om die nodige inspraak by die owerheid te doen, sodat 'n afvaardiging van die owerheid en u organisasie samesprekings met die leiers van die gemeenskap sal reël," lui die brief.

Tydens die georganiseerde optrede teen swaar vragmotors die afgelope twee weke het die lede van die gemeenskap verskeie gevalle van die onwettige vervoer van passasiers en van onwettige immigrante opgespoor en aan die polisie gerapporteer. Die aksie duur voort.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines