

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2011
Dit lyk of die Makhado Munisipaliteit en die Soutpansberg Belastingsbetalersvereniging (SBBV) besig is om ernstig te begin koppe stamp oor die munisipale geld wat deur die SBBV weerhou word.
SBBV-lede betaal hulle munisipale rekeninge in ‘n trust in, waarna gedeeltes soos vir die verbruik van elektrisiteit en water, aan die munisipaliteit oorbetaal word. Dit volg nadat die SBBV ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar het oor swak dienslewering en probleme met eiendomsbelasting. Ná ‘n vergadering van rolspelers hieroor met die munisipaliteit op 27 Oktober is dit duidelik dat die munisipaliteit nie veel langer wil wag vir die SBBV om die trustgelde aan hulle oor te betaal nie.
Tydens die vergadering is daar besluit dat die munisipaliteit binne sewe dae ‘n aksieplan met teikendatums beskikbaar sou stel. Die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, het ‘n dokument in die verband op 14 November ontvang.
“Die munisipaliteit het intussen aan my gesê dat hierdie dokument ‘n gedeeltelike aksieplan is en dat ons die res daarvan hierdie week sal ontvang,” het Gilfillan Dinsdag gesê.
Die dokument of "aksieplan" se eerste gedeelte het hoofsaaklik oor die waterbeperkinge teen SBBV-lede gehandel. Daarby aangeheg was ‘n verslag oor die elektrisiteitsvoorsiening aan Levubu; die werk aan vyf strate in die industriële gebied en drie in Eltivillas; en die werk aan vier rioolpompstasies. Nog ‘n aanhangsel bevat ‘n aksieplan in verband met foute op munisipale rekeninge, voorafbetaalde kragverkooppunte en vakante poste by die munisipaliteit.
Volgens die munisipaliteit sal die rolspelers, insluitende die SBBV, terreinbesoeke kan bring in die sewe dae wat volg op die aksieplan.
“Die fondse moet deur die SBBV oorbetaal word binne sewe dae na die terreininspeksie,” lui die notule wat deur die munisipaliteit ná die vergadering op 27 Oktober opgestel is.
Verder lees die notule, ‘n “memorandum van verstandhouding moet opgestel word tussen die Makhado Munisipaliteit en die SBBV en laasgenoemde moet die memorandum onderteken binne sewe dae vanaf die ontvangs daarvan.”
Gilfillan het die munisipaliteit per brief laat weet dat, na afloop van terreininspeksies om die implementering van die aksieplan na te gaan, daar eers terugvoer aan lede gegee sal word om te besluit of hulle die uitvoerende komitee ‘n mandaat kan gee om die fondse beskikbaar te stel. Dit kan gedoen word wanneer die dispuutpunte opgelos is. Die bedrag wat teruggehou is, beloop tans R4.5 miljoen.
Gilfillan het ook gesê dat die memorandum nie in hierdie stadium onderteken kan word nie, aangesien dit gedeeltes bevat waarmee die vereniging nie saamstem nie, soos die klousule wat lees dat die SBBV binne 21 dae alle fondse beskikbaar sal stel om die uitstaande rekeninge van hulle lede te vereffen.
Die SBBV het die memorandum na hulle regsverteenwoordiger verwys.
Die munisipaliteit het ‘n opvolgvergadering vir 16 November belê. Kennisgewing van die vergadering is die dag tevore gegee. Die SBBV het geantwoord dat hulle ‘n kennistydperk van tien werksdae voor ‘n vergadering benodig. Die volgende vergadering van die rolspelers sal moontlik op 30 November plaasvind.
Intussen blyk dit dat die munisipaliteit dreigtaktieke teen SBBV-lede begin gebruik. Die toepassing van waterbeperkings teen SBBV-lede is een van die kaarte wat deur die munisipaliteit gespeel word.
“Die munisipaliteit vind dit nodig om sy beleid (van kredietbeheer en skuldinvordering) toe te pas sonder om die lede van die vereniging uit te sluit. Dié beleid sluit maatreëls soos waterbeperkings teen die lede in,” sê die munisipale bestuurder, mnr. Shadrack Tshikalange, in ‘n brief aan die SBBV. Hy het egter onderneem om waterbeperkings teen die lede van die vereniging op te hef, afhangende van die uiteindelike uitslag van die vergadering wat op 27 Oktober tussen die partye gehou is.
Een van die SBBV lede, mnr. Ampie du Toit, se water was tydelik beperk tot 200 liter per dag.
“Dit skrik my nie af nie, dit maak my net meer vasbeslote,” het Du Toit gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
