ADVERTISEMENT:

 

Krisishuis beplan vir "weggooikinders"

 

News  Date: 30 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die stigtingsvergadering van 'n krisishuis op die dorp word op 12 Februarie in die Ferdie Beyerssaal gehou.

Die plaaslike interkerklike Kruiskomitee het vandeesweek almal wat belangstel om deel te wees van die oprigting en bedryf van 'n krisishuis op die dorp, genooi om die vergadering by te woon. Dit begin om 19:00.

Die behoefte aan 'n kinderhuis, of veilige versorgingsplek vir ontwrigte kinders wat deur die hof van hul huise verwyder moes word, is verlede jaar deur verskeie welsynsorganisasies uitgespreek. Die behoefte word gestaaf deur statistieke aangaande die getal kinders wat noodgedwonge elders na kinderhuise oorgeplaas moet word. Die naaste kinderhuis is op Nylstroom, en sommige gaan so ver as Standerton. Dit het tot gevolg dat die kinders wat reeds deur hul huislike omstandighede getraumatiseer is, nog verder ontwrig word deur die feit dat hulle totaal uit hul bekende omgewing – huis, skool en dorp – verwyder word. Dit bemoeilik ook die werk van die betrokke welsynsorganisasies, wat berading met die kinders en met die ouers moet doen.

Die Kruiskomitee is 'n interkerklike komitee wat daarna streef om gemeenskaplike interkerklike projekte tot eer van God te loods, en stel homself ten doel om die projek te bestuur met die hulp van die hele gemeenskap. 'n Woordvoerder van die komitee het vandeesweek gesê, ná 'n breë ondersoek en vele beraadslaging met belangstellende partye, is dit duidelik dat 'n Krisishuis eerder as 'n Kinderhuis die antwoord op die probleem is. Tot ses minderjarige kinders kan in 'n krisishuis onder toesig van 'n ouerpaar vir 'n tydperk van drie tot ses maande versorg word. Die plaaslike welsynsorganisasie wat die saak hanteer, het dan die geleentheid om berading met die ouers en met die kind te doen en om 'n alternatiewe heenkome vir die kind te vind, sonder om die kind heeltemal uit sy of haar bekende omgewing te verwyder.

Die Kruiskomitee beoog om die leiding te neem vir die befondsing en daarstelling van 'n geskikte huis, en om die daaglikse bestuur van die huis oor te gee aan 'n inter-kerklike bestuurskomitee wat verteenwoordigend sal wees van die hele gemeenskap

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines