ADVERTISEMENT:

 

Bekende sakeman van streek sterf

 

News  Date: 30 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Bekende plaaslike sakeman en welbekende gesig by die Soutpansberg Kommando, mnr. Jan Prinsloo, is Saterdag (24ste) skielik hier oorlede in die ouderdom van 65 jaar.

Jan Burger Prinsloo is op Krugersdorp gebore. Hy het sy vakleerlingskap by die Suid-Afrikaanse Spoorweë deurloop en later by die Suid-Afrikaanse Lugmag diens gedoen. In die Soutpansberg het hy aanvanklik op Levubu geboer. Hy het hom as kundige sakeman onderskei met die vestiging van die onderneming Brake & Clutch, wat hy tot en met sy aftrede vyf jaar gelede help bedryf het. Na sy aftrede het hy die onderneming Louis Trichardt Verkoelers bedryf, tot en met sy dood.

Jan was 'n aktiewe lid van die Soutpansberg Kommando, waar hy 'n geruime tyd as RSM diens gedoen het. Met sy uittrede was hy tweede in bevel. Hy het 'n leidende aandeel geneem in die instelling van die gereëlde vaandelparade met die viering van die Kommando se vryheid van die dorp.

As lid van die Bosveldjagtersvereniging het hy as minsame pa en oupa ook by sy kinders en kleinkinders (twee dogters en twee kleinseuns) 'n liefde en waardering vir die natuur, vir jag en vir visvang aangekweek.

Sy deernisvolle meelewing het tot uiting gekom in sy diens as kerkraadslid en in sy algemene mededeelsaamheid. Hy het sy skoonouers vir 28 jaar, tot met hul dood, by hom aan huis versorg en was bekend as iemand met 'n oop hand vir andere se nood.

Sy eggenote, Erna, en sy kinders het vandeesweek gesê hulle eer sy nagedagtenis, wat die moeite werd is om na te volg. Hulle het dank uitgespreek teenoor almal wat steun en meelewing betoon het na Jan se skielike sterfte.

'n Gedenkdiens vir Jan is Dinsdag, 27 Januarie in die Nederduits Gereformeerde kerk Soutpansberg gehou. Lede van die Soutpansberg Kommando was onder die roubeklaers.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines