ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt, die streek en verskeie strukture verloor ‘n onselfsugtige staatmaker met me. Marie Helm se verhuising na Hoedspruit. Helm ontvang op 25 November ‘n rekenaar as geskenk van die SDLU om dankie te sê vir haar enorme bydrae. By ‘n afskeidfunksie op 27 November het strukture soos die SBBV, die Voorsittersvereniging, die ACDP en die beradersforum ook van Helm afskeid geneem.

Streek verloor staatmaker ystervrou

 

News  Date: 05 December 2011

 

Louis Trichardt, die streek en verskeie strukture verloor ‘n onselfsugtige en begaafde staatmaker met me. Marie Helm se verhuising na Hoedspruit.

By die afskeidsfunksie van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) op 25 November, wou Helm nie eintlik hê dat iemand oor haar praat nie.

“Dit gaan nie oor die persoon nie, dit gaan oor ‘n organisasie. As ek nie die strukture gehad het nie, kon ek nie ‘n bydrae gelewer het nie,” sê Helm, wat sedert 2005 by die landbou-unie betrokke was, eers as TLU SA-streekbestuurder en die afgelope 18 maande by die SDLU.

Die verskeie boereverenigings van die SDLU het geld ingesamel en vir Helm ‘n rekenaar as afskeidsgekenk gegee om dankie te sê vir haar enorme bydrae. “Margaret Thatcher was ‘n ystervrou. Hierdie was ‘n super ystervrou,” het mnr. Fritz Ahrens, ondervoorsitter van die SDLU, geskerts.

“Marie was ‘n volle dagbestuurslid wat met vele sake, soos grondsake, arbeidsake, watersake, veiligheid en AgriSETA-opleiding gehelp het. Ons wil dankie sê vir haar geweldige hoeveelheid werk  deur middel van haar betrokkenheid om munisipale aksie te help rig ten einde inwoners te beskerm teen ‘n onregmatige aanslag om belastings in te vorder vir dienste wat nie gelewer is nie,” het mnr. Stephen Hoffman, SDLU-voorsitter, gesê. Hoffman het ook gesê dat Helm ‘n groot rol gespeel het om maatskappye wat in ons omgewing wil prospekteer en myne te forseer om binne die riglyne van die wet te funksioneer. 

By nog ‘n afskeidsfunksie op 27 November by die Lalapanzi Hotel was verskeie ander strukture teenwoordig, insluitend die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), die Voorsittersvereniging (VV), die ACDP en die beradersforum.

“Marie is die staatmaker van die jaar. Sy doen die navorsing, gee die teoretiese agtergrond en voer dan die plan ook nog uit. Sy is die onselfsugtigste mens wat van haarself, haar tyd en haar geld gee. Sy is een uit ‘n duisend. Ons verloor ‘n ledemaat - sy was soos die nek wat die kop gedraai het,” sê  me. Inga Gilfillan namens die SBBV en VV. Verskeie ander sprekers het ook hul dank betuig.

Helm was ‘n DA-raadslid sedert 2000 en ‘n ACDP-raadslid  vanaf 2005 tot Mei 2011. Helm “tree nou uit” en gaan haar daarop toespits om ‘n hipnoterapie praktyk op Hoedspruit te vestig. Mnr. Solly Maano van die SBBV het ‘n goeie opsomming gemaak toe hy gesê het dat hy nie weet nie of Hoedspruit besef watter kaliber mens hulle bykry nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines