ADVERTISEMENT:

 

Die seniorverkeersbeampte wat glo sy pen uitgeruk en De Klerk in sy regtersy daarmee gesteek het. Die beampte se identiteit kan nie bekend gemaak word nie, aangesien daar nog geen formele klagte gelê is nie. Foto verskaf.

Sakeman meen beamptes het hom aangerand

 

News  Date: 05 December 2011

 

“Mens sou dink dit is verkeersbeamptes – hulle moet jou kan beskerm,” het mnr. Ludwich de Klerk aan die Zoutpansberger gesê. De Klerk beweer die verkeersmanne het hom aangerand, nadat hy hulle op heterdaad betrap het dat hulle omkoopgeld ontvang het.

Volgens De Klerk is hy verlede Donderdag, op pad terug vanaf Polokwane, naby Matoks afgetrek vir spoed. Die beamptes het beweer hy het 92km/u in die 60km-sone gery. Die kaartjie van R600 kon egter verdwyn, so het die beamptes glo aan De Klerk gesê, as hulle “tot ‘n ander verstandhouding kon kom.”

De Klerk het gesê hy stel nie daarin belang om omkoopgeld te betaal nie en dat hulle vir hom maar ‘n kaartjie moet skryf. “Ek was van plan om ‘n vertoë te rig, omdat my voertuig gestel was om nie teen meer as 65km/u deur Matoks te ry nie,” het De Klerk gesê.

Die vonke het egter begin spat toe ‘n bakkie met ‘n GP-registrasienommer agter De Klerk stop en hy besef dat die bestuurder besig is om omkoopgeld aan twee van die verkeersbeamptes te betaal.

De Klerk het die bestuurder hieroor uitgevra, waarna ‘n ander verkeersbeampte vir hom skreeu dat hy nie met mense langs die pad mag praat nie. Die bestuurder en die beampte het toe glo agter die klap van die kattebak van die verkeersvoertuig verder gaan onderhandel.

Met die gedagte om die voorval te rapporteer het De Klerk met sy selfoonkamera die registrasienommer van die bakkie en die verkeersvoertuig afgeneem. “Ek het geredeneer dat dit mos die laaste kaartjie sou wees wat in die boek uitgeskryf is,” het De Klerk gesê.

Die verkeersbeampte wat besig was om De Klerk se boete uit te skryf, het volgens De Klerk hom toe van agter om die nek gegryp en begin wurg. Hy het ook glo De Klerk se regterarm agter sy rug in gebuig in ‘n poging om die selfoon af te vat. Die ander twee verkeersbeamptes het ook nader gestorm. Een verkeersbeampte het toe glo sy pen uitgeruk en De Klerk in die regtersy gesteek. Dit was die laaste foto wat De Klerk kon neem.

De Klerk beweer hy is met die dood gedreig. “Ek het die heeltyd net vir my self gesê om nie terug te slaan nie, want ek is bang hulle pluk hulle pistole uit.”

Gelukkig vir De Klerk het ‘n verbyganger gesien wat gebeur en gestop om te help net voor De Klerk sy balans verloor het. “Ek het net vir die persoon geskreeu my naam is Ludwich en dat ek van Louis Trichardt is.”

Die verkeersbeamptes het De Klerk toe laat gaan. Hy is daarna dokter toe vir mediese behandeling.

De Klerk is tans in die proses om ‘n formele klagte van aanranding te lê teen die verkeersbeamptes. Sy prokureur, me. Steffie van der Westhuizen, het bevestig dat hulle De Klerk se klagte op die laatste teen Donderdag sal open.

Intussen het provinsiale verkeerswoordvoerder mnr. Thesan Moodley Woensdag gesê dat daar nog nie ‘n formele klag by hulle ingedien is nie. Hy het gesê sodra ‘n klag ingehandig word, sal daar ‘n ondersoek na die beamptes se beweerde wangedrag volg.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines