ADVERTISEMENT:

 

Motiewe vir polisielede se optrede bevraagteken

 

News  Date: 23 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Klagtes dat swart polisiebeamptes binne die SAPD hul mag misbruik om hul eie rassistiese doelstellings te bereik, is aan die toeneem.

In die mees onlangse geval is 'n bejaarde boer van Mopane, mnr. Faan Brits, in Desember verlede jaar met sy vragmotor vol lusern van die Malaladrifpad geforseer deur twee mans in 'n ongemerkte voertuig. Die twee mans, in siviele klere, het hul later as lede van die grenspolisie op Beitbrug geïdentifiseer en mnr. Brits beveel om op eie onkoste na Beitbrug te ry, sodat hulle sy vrag vir dagga kon ondersoek. Daar aangekom, is mnr. Brits vir etlike ure in die openbaar verneder en beveel om met sy eie hande die vol vrag lusern af te laai. Toe die polisiebeamptes niks kon vind nie, is mnr. Brits bloot aangesê dat hy nou maar weer die bale lusern kon terug laai.

Een van die betrokke polisiebeamptes is geïdentifiseer as Insp. Sello Edward Tshikelele. 'n Woordvoerder van die SAPD se hoofkantoor in Polokwane het bevestig dat dit dieselfde Tshikelele is wat in Februarie verlede jaar na bewering sy dienspistool uitgeruk het en die personeel van Thompsons Motors op Louis Trichardt gedreig het na 'n woordewisseling. Hy is 'n paar dae na die voorval gearresteer en aangekla op klagte van die rig van 'n vuurwapen en crimen injuria. Tshikelele sal op 24 Februarie weer in die plaaslike landdroshof verskyn op dié klagte.

Die afgelope week het nog 'n inwoner van die dorp, mnr. Albert Dean, genoem dat hy 'n soortgelyke ondervinding gehad het. Hy en sy vrou is ook gedurende Desember van die pad gedwing deur twee persone in 'n ongemerkte bakkie op die Beitbrug/Musina-pad. Dit was eers nadat hulle tot stilstand gedwing is dat die twee persone in siviele klere hulself as polisiebeamptes geïdentifiseer het. Die voorval het omstreeks 20:00 die aand plaasgevind. Mnr. Dean het gesê dat die beamptes uiters ongeskik was.

"Wanneer moet jy stop as die sogenaamde polisie nie eers 'n uniform het, sodat jy hulle kan uitken nie?" het mnr. Dean ondermeer opgemerk.

Nog 'n sprekende voorbeeld is die polisie op Levubu se optrede teenoor die blanke boeregemeenskap. Die gemeenskap het maandelank gebukgegaan onder misdaad, sonder dat die polisie regtig 'n vinger verroer het om te help. Selfs die provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie, mnr. Michael Holford, het in September die vraag gevra of sekere polisiebeamptes nie self betrokke is by die aanvalle op blanke boere nie, en daarom doelbewus klagte van blanke boere ignoreer. Dit was egter eers na die dood van die 65-jarige mnr. Piet de Jager in Oktober, dat die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, me. Dikeledi Magadzi, besluit het om in te gryp en die hele bestuur van die SAPD op Levubu te herstruktureer. Die swart bevelvoerder is oorgeplaas na Thohoyandou. Dit is nie seker of enige dissiplinêre stappe teen hom geneem is nie. Die LUR se optrede is deur baie beskou as 'n erkentenis van die provinsiale regering se kant, dat onbevoegdheid en rassisme wel 'n probleem is in die SAPD.

Die afgelope paar jaar was daar talle voorvalle waar rassisme klaarblyklik 'n rol gespeel het in die polisie se optrede teenoor blanke inwoners en boere. Die mees opspraakwekkende geval was die Piet Viviers-saak. Mnr. Viviers is in Januarie 2001 deur 23 polisiebeamptes van die Openbare Orde Polisiëringseenheid in Thohoyandou op sy plaas naby Mara gearresteer, op klagte van veediefstal, nadat hy sowat 40 rondloperbeeste op sy plaas geskut het. Die beeste was afkomstig van die Zamenkomste-woonbuurt. Hy is gearresteer, ten spyte van die feit dat senior polisiebeamptes gewaarsku is dat hul optrede onwettig is. Een van die senior polisiebeamptes was kapt. Ailwei Mashavhanamadi, streekswoordvoerder van die SAPD. Sowat 'n maand na mnr. Viviers se arrestasie het die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging beslis dat mnr. Viviers se arrestasie onregmatig was, dat hy binne sy reg opgetree het en dat die polisiebeamptes se optrede rassisties van aard was. Die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings het ook beslis dat daar dissiplinêr opgetree moes word teen die betrokke polisiebeamptes, insluitend kapt. Mushavhanamadi. Tot op hede is daar nog geen aanduiding of daar enigsins teen enige van die betrokke beamptes opgetree is nie, en almal is steeds in hul posisies.

Gevalle soos die Viviers-saak laat meer en meer die vraag ontstaan of sekere polisiebeamptes se skynbare rassistiese optrede nie dalk die goedkeuring van die regering wegdra nie, aangesien hulle onaangetas voortgaan in hul pligte. Dit is egter wel die afgelope week bevestig dat daar 'n intensiewe ondersoek sal wees na die voorval waarin mnr. Brits betrokke was. Die ondersoek geskied op provinsiale vlak.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines