ADVERTISEMENT:

 

Boere forseer vragmotors na N1

 

News  Date: 23 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT – Buitelandse swaar vragmotors wat van sekondêre paaie gebruik maak om die Baobab Tolhek te ontduik, word sedert laas Vrydag voorgekeer en gedwing om op die N1 te bly.

Boere in die omgewing sê die swaar vragmotors verniel die sekondêre paaie, wat nie vir sulke swaar verkeer gebou is nie, en ook die veiligheid van die swaar vragmotors se bestuurders en vrag in gevaar stel.

Die vragmotors wat van die Huntleighpad gebruik wil maak om die tolhek te ontduik, word voorgekeer en verplig om op die N1 te bly. Woordvoerders van die betrokke gemeenskap het vandeesweek by navraag gesê die swaar voertuie beskadig die sekondêre paaie, sodat dit bykans onrybaar word vir die boere in die onmiddellike omgewing, vir wie die paaie lewensnoodsaaklik is.

Die Huntleigh-ompad kruis ook die hoofspoorlyn op twee plekke. Swaar vragmotors was reeds by beide kruisings in ernstige ongelukke betrokke. By die Huntleigh-sylyn was 'n swaar vragmotor met sleepwa betrokke in 'n botsing met 'n goederetrein wat gevaarlike chemikalieë vervoer het. By die Mopane-kruising het 'n soortgelyke vragmotor omgeslaan nadat dit te vinnig om die skerp draai voor die kruising gekom het. Omdat die paaie nie vir sulke swaar vragverkeer gebou is nie, is die padtekens ook onvoldoende om die swaar vragmotors doeltreffend te waarsku teen die opvallende gevare.

Amptelike vertoë is reeds aan die betrokke owerhede gerig om dringende aandag te gee aan die ernstige probleme wat die swaar vragmotors op die sekondêre paaie veroorsaak.

In die jongste vertoë, wat aan die LUR vir Vervoer gerig is, het inwoners gewaarsku dat hulle self die nodige verantwoordelike stappe sal doen, indien die LUR vir Vervoer voortgaan om hul dringende vertoë te ignoreer.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines