ADVERTISEMENT:

 

Charles Leach vertoon die kleed met die Zoutpansberg Skermutselingsembleem wat vir die onthulling gebruik gaan word. Alle belangstellendes word genooi om die geleentheid mee te maak.

Oorlogsmonument erken beide partye

 

News  Date: 12 December 2011

 

Was daar al ooit ‘n oorlogsmonument wat met ewe veel passie deur die nasate van beide strydende partye onthul is? So ‘n inligtings- en herdenkingsmonument word op Saterdag, 10 Desember, naby Modjadjiskloof onthul.

Hierdie monument vorm die hoogtepunt en toepaslike afsluiting van sewe jaar se navorsing deur bekende plaaslike historikus Charles Leach van Louis Trichardt en al sy goedgesinde medewerkers. Die foto’s van die onthulling van dié belangrike monument sal opgeneem word in Leach se boek, wat vermoedlik oor 'n aantal maande sal verskyn.

Die monument herdenk die belangrikste gebeure in die hele besettingstydperk van die Bushveldt Carbineers (BVC), ‘n Britse regiment wat uit Australiërs bestaan het,  in die Soutpansberg. Dit herdenk die nagaanval van  6 Augustus 1901, seker een van die onsinnigste aanvalle wat ooit geloods is. Geen party het gewen nie en ‘n reeks moorde het daaruit voortgevloei.

Tydens dié gewraakte nagaanval het die BVC die Letabakommando, wat in kommandant Herklaas Viljoen se feitlik ondeurdringbare opstal gebly het, aangeval. Die 18-jarige Hendrik Jacobs het op die stoep gesit en ‘n waarskuwingskoot geskiet toe hy twee Britse offisiere by die steil trappe sien opkom. Die skoot is verkeerdelik deur die Britse troepe as hul aanvalsteken geïnterpreteer en die Britte het die boere beveel om oor te gee. ‘n Geveg het losgebars. Offisiere aan beide kante is gedood en die manskappe het op die vlug geslaan.

Kaptein Hunt van die BVC is in die skermutseling dood, asook een van die seuns van komdt. Viljoen, veldkornet Barend Vijoen. Sy broer, Floris Visser, is in die enkel gewond en het gevlug. Die berugte Luitenant Breaker Morant was woedend oor sy bevelvoerder, kaptein Hunt, se dood en lykskending.

“From now on we will take no more prisoners,” was Morant, die nuwe bevelvoerder, se woorde. Hy het geglo dat die boere  Hunt se lyk geskend het  en het nie in ag geneem dat veldkornet Viljoen se lyk ook geskend is nie. Saam in die nagaanval was ‘n geskatte 300 Modjadji-krygers en toordokters wat die Britte bygestaan het. Hulle is bekend vir hul praktyke om lyke te skend vir rituele doeleindes.

Morant het wraak geneem. Die vlugtendes is agternagesit en die gewonde Visser is op 10 Augustus by Mooketsi deur ‘n vuurpeleton doodgeskiet. Dit was die eerste van ‘n reeks moorde. Luitenante Morant, Peter Handcock en George Witton is later aan hierdie moorde skuldig bevind en Morant en Handcock is tereggestel.

Leach het nog altyd gehoop dat die opstal van kmdt. Viljoen gevind sal word. In Mei verlede jaar is die oorblyfsels van die vloer van die huis en stalle, asook verskeie stelle trappe, in digte bosse ontdek deur mnr. Theo Dickie op die plaas “Duivelskloof” van mnr. Piet van Niekerk. Die onthulling gaan op die plaas naby die opstal plaasvind. 

Die monument gaan gesamentlik onthul word deur Margaret Barrett, kleindogter van sersant Frank Eland, wat saam met kapt. Hunt in die nagaanval doodgskiet is, en deur Anette Viljoen van Rensburg, kleinniggie van veldkornet Viljoen. Die oorlog het ‘n wig probeer indryf  tussen die twee families. Hulle was egter voor en ná die oorlog steeds bevriend. Hierdie monument is dan ook die monument in die reeks waarvan die inskripsie in beide Engels en Afrikaans sal wees.

Die onthulling van die monument begin om 10:00 vir 11:00. Motoriste word gevra om ten minste een ekstra uur ry-tyd in te reken as gevolg van die stop-ry padwerke in die Modjadjiskloof/Tzaneen omgewing. Die afdraaipad, ‘n plaaspad sowat 1,9km noord van Modjadji (Duivelskloof) op die hoofpad na Polokwane sal met ‘n bruin en wit bord aangedui word. Die ‘GPS’ koordinate van die ligging van die monument is S 23 39 733, E 30 10 526.

Besoekers kan gerus ‘n stoel en sambreel saambring, asook eie verversings indien verlang.

Belangstellendes wat hierdie historiese geleentheid wil meemaak, kan Charles Leach  kontak by 083 228 3874.

“Ek bedank graag al die plaaseienaars, goedgesinde belangstellendies en kundiges, sonder wie ek nooit hierdie navorsing  sou kon gedoen het nie,” het Leach Maandag gesê. Verder bedank hy Rabali Louis Trichardt  vir hulle goedgunstige skenking van die afgelope drie monumente se granietblaaie enTalisman, Louis Trichardt, vir die leen van gereedskap vir hul erfenis funksies.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines