

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2011
'n Grillerige rivier van bloed is ‘n daaglikse gesig in die industriële gebied van Louis Trichardt.
‘n Afvaardiging van sowat 10 persone van die plaaslike, distrik en provinsiale regering het die ‘bloedrivier’ op 30 November besigtig, saam met die bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging. Dit was deel van ‘n toer om sekere knelpunte te inspekteer.
‘n Sloot regoor die pad tot in die veld lei die bloed weg van die abattoir en aanliggende ondernemings.
Die bloed en miswater is afkomstig van die PJ Ludick Abattoir, geleë naby die brouery. Die afgelope vyf jaar ondervind die abattoir die probleem dat die munispale rioleringstelsel nie in werkende toestand is nie.
“Die probleem was vir twee jaar aan die gang, waarna dit reggemaak is. Dit het net vir drie weke gehou. Dit is nou weer drie jaar dat die riolering nie werk nie en ek die bloed uitpomp. Die bloed kan tog nie terug na die varsgeslagte vleis gaan nie,” het mnr. Phillip Ludick Dinsdag gesê.
Intussen het die eienaar van die buurperseel, mnr. Tony José, gesê dat hy ten einde raad, weens 'n gebrek aan munisipale optrede, ‘n sloot oor die pad gegrawe het sodat die bloed weg van sy perseel gekanaliseer kan word. “Die beesbloed en alles wat daarmee saamkom, affekteer my besigheid. Ons het al alles probeer. Die hoof riool van die munisipaliteit is geblok. Die mense kom uit en sê hulle sal ‘n plan maak, maar niks gebeur nie. Intussen moet die man slag; ons kan hom nie kwalik neem nie,” sê José.
Ludick het op sy beurt al met regsaksies begin.
“Iemand moet hulle wakker maak. Besef hule nie die gesondheidsrisiko nie? Daar is al vir my gesê dat my besigheid toegemaak moet word. My antwoord is ‘Nee, moenie my toemaak nie, gaan praat met die munisipaliteit dat hulle hul dreine regmaak.’ Ek betaal elke maand vir diens wat ek nie kry nie,” sê Ludick.
Die Makhado Munisipaliteit het teen druktyd nog nie hul kommentaar op hierdie situasie en op die ander besoekpunte gegee nie.
Me. Florah Nkoana, uitvoerende bestuurder van CoGTA se provinsiale bystandseenheid in Polokwane, het die afvaardiging vergesel. Sy het Dinsdag esê dat sy nie die woordvoerder is nie, maar dat sy telefonies sal reageer, wat teen druktyd nog nie gebeur het nie.
Die bestuurder van die SBBV, me. Aretha Smith, sê dat die aanskouing van die bloed en ingewande haar naar gemaak het. Volgens Smith het Nkoana op die toneel gesê dat die situasie ‘n onaanvaarbare gesondheidgevaar is en dat daar werk van gemaak moet word.
Daarmee stem SBBV voorsitter, me. Inga Gilfillan, asook die SBBV bestuurder volmondig saam. “Die bloed gaan in die veld in en daarvandaan in die vlei, waar dit uiteindelik in die boorgate kan beland. Dit is nie aanvaarbaar nie,” sê Gilfillan en Smith.
Nog ‘n punt wat deur die afvaardiging en Smith besoek is, is die Eltivillas pompstasie. Gilfillan het gesê dat sy bly is om te verneem dat die Eltivillas rioolpompstasie reggemaak is en die gemors verwyder is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
