

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 May 2004
Foute met elektrisiteitsrekeninge en betalings by die Makhado Munisipaliteit laat die persepsie ontstaan dat daar moontlik administratiewe chaos by die rekeninge-afdeling heers.
Veral belastingbetalers voel dat wanneer 'n openbare liggaam met hulle geld werk, selfs een fout 'n fout te veel is.
Louis Trichardt Abattoirs het ondervind dat 'n munisipale amptenaar opdaag om hulle krag af te sny, alhoewel hulle rekening elke maand elektronies oorbetaal word. Ook verskyn daar telkens 'n bedrag van R8 000 op hulle rekening vir vullisverwydering wat normaalweg R319 per maand beloop, 'n probleem wat nog nie uitgesorteer kon word nie.
Die Van Zyl's in Jeppestraat het weer 'n krediet van R1 600 in hul elektrisiteitsrekening aangetref. By navraag is aan hulle gesê dat dit seker iemand anders se geld is wat verkeerdelik daar inbetaal is.
Nog 'n inwoner, mev. Astrid van Wyk, het haar rekening per tjek betaal, uitgemaak aan Makhado Munisipaliteit. Die betaling het nie op haar volgende rekening gereflekteer nie, alhoewel haar bankstaat gewys het dat die tjek gewissel is.
Na aanleiding van laasgenoemde klagte het mev. Hazel Davhula van die munisipaliteit se skuldinvorderings-afdeling gesê dat die spoed waarmee betalings reflekteer afhang van die tyd van die maand waarin die rekening betaal word en dat hul stadige rekenaarsisteem ook 'n rol speel.
Mnr. Dan Masengana, Direkteur: Finansies van die Makhado Munisipaliteit, het Dinsdag gesê dat daar gereeld probleme met rekeninge by hulle uitkom, maar dat hulle dit hanteer en oplos. Mnr. Masengana het gesê dat sewe dae 'n redelike tyd is vir 'n fout op 'n rekening om herstel te word. Masengana het ook mense met probleme uitgenooi om met hom in verbinding te tree.
Wat die elektroniese oorbetaling van Louis Trichardt Abattoirs betref, het mnr. Masengana gesê dat nie al die nommers van die rekeningnommer op die bankstaat verskyn het nie. Die regte prosedure sou wees om 'n depositostrokie aan die munisipaliteit te stuur. Masengana sê dat daardie probleem uiteindelik opgelos is.
Die krediet in die Van Zyl's se rekening was nie te wyte aan die verkeerde inbetaling van 'n ander kliënt se geld soos wat die amptenaar gemeen het nie. Masengana het gesê dat die krediet korrek was as 'n klaringsbedrag.
Masengana het beaam dat daar nie administratiewe chaos heers by die Raad nie.
"Daar word aandag gegee aan klagtes wat aanhangig gemaak word en dit word uitgesorteer." Inwoners met klagtes kan vir mnr. Masengana geskakel by tel. (015) 519 3210

ADVERTISEMENT:
