ADVERTISEMENT:

 

Rowers oorrompel pensionaris in huis

 

News  Date: 23 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - 'n Bejaarde pensioenaris is hier vir bykans 'n uur lank geterroriseer deur twee rowers wat haar vasgebind, in die gesig geklap en met geweld geld geëis het, terwyl hulle van haar klere aan die brand gesteek het.

Mev. E. H. C. Lee, oftewel tannie Lee, wat ten tye van die misdaad alleen in Kokstraat gewoon het, was vandeesweek nog steeds sigbaar geskok oor die gebeure in die nag van 9 Januarie.

Twee inbrekers het haar in haar slaapkamer oorrompel. Sy sê dit was twee jong mans wat Engels, Venda en Afrikaans gepraat het. Hulle het gedreig om haar kop met 'n baksteen in te slaan as sy sou waag om om hulp te skree. Sy is van haar televisiestel, kontantgeld en klerasie beroof. Hulle het toegang tot haar woonhuis gekry deur 'n glasskuifdeur se kosyn met 'n koevoet oop te buig en die knip met 'n draad los te haak.

'n Week tevore is 'n saak van poging tot inbraak deur mev. Lee aan die polisie gerapporteer, toe daar met die traliehek by die huis gepeuter is. Die polisie kon toe geen vingerafdrukke op die toneel vind nie en niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Mev. Lee, wat in Oktober vanjaar 80 word, sê sy het die betrokke oggend omstreeks 02:00 vanaf die badkamer na haar slaapkamer teruggekeer en het net gaan lê, toe iemand skielik haar mond toegedruk en gedreig het om haar dood te maak as sy om hulp sou roep. In die donker het sy twee mans in die kamer gesien, wat met vuurhoutjies lig gemaak en gevra het waar haar geld is. Die vorige dag is pensioene uitbetaal.

In hul soektog het hulle 'n houer met klere in die kamer aan die brand gesteek. Hulle het die gesteelde goedere buite op 'n bakkie gelaai, wat hulle in haar huis se oprit geparkeer het. Nadat hulle weggery het, het mev. Lee haar hande losgewoel, na buite gegaan en haar een buurman geroep, wat die polisie ontbied het. Dit was omstreeks 03:00.

Mev. Lee sê bure oorkant die straat het gesê hulle het hul honde hoor blaf en die bakkie in haar oprit gesien, maar gedink dit is kuiergaste. Niemand is nog in verband met die misdaad in hegtenis geneem nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines