

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2011
Dit was so hittete of twee booswigte het weggekom met ‘n vuurwapen wat hulle by ‘n familiewoning op Louis Trichardt gesteel het.
Die twee rowers, nou agter tralies, het vroeg verlede Vrydagoggend probeer om by me. Maud Myburgh en haar broer, Sakkie Scholtz, se huis in Douthwaitstraat in te breek.
Sakkie het wakker geword van ‘n geraas en het by die kombuisdeur uitgegaan om vas te stel wat aangaan. Met die besef dat dit ‘n indringer is, het Sakkie probeer om die deur toe te druk. In die proses is hy egter van sy rolstoel afgegooi. Een rampokker het verby hom gehardloop, in die huis in.
‘n Bleek Maud het kort na dié voorval vertel dat sy wakker geword het van die geraas en gaan ondersoek instel het. Sy het die indringer betrap toe hy verby haar gevlug het, nadat hy Sakkie se vuurwapen in sy kamer gevat het. Uit pure desperaatheid het sy ‘n bottel whisky van die kombuistafel gegryp en na die skelm gegooi om hom te verwilder.
Wonderbaarlik het die twee skelms op die vlug geslaan sonder om die vuurwapen te gebruik. “Ek dank die Here dat Hy sy hand oor ons gehou het,” het Maud gesê.
Kort hierna is die twee mans deur die Soutpansberg Dorpswag in ‘n verlate huis, twee huise van Maud-hulle af, aangekeer. Volgens Maud bestaan die vermoede dat die twee mans dalk verantwoordelik is vir talle klein diefstalle in die buurt. “Daar was drie inbrake hier rond voor die inbraak by ons Vrydagoggend.”
Behalwe vir ‘n besering wat Sakkie aan sy voet opgedoen het toe hy geval het, is niemand ernstig beseer nie. Met daglig is die hulp van die polisie se honde-eenheid ingeroep om die vuurwapen op te spoor. Die vuurwapen in die omgewing van Jeppe- en Kleynhansstraat teruggekry.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike kon teen druktyd nog nie die voorval bevestig nie.
Intussen staar Sakkie ‘n klag van die nalatige verlies van 'n vuurwapen in die gesig. Teen Dinsdag het hy alreeds regshulp ingewin en ‘n verklaring by die polisie afgelê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
