ADVERTISEMENT:

 

Mnr. William Stam van Louis Trichardt.

"Help ek word deur ´n polisieman beroof!"

 

News  Date: 12 December 2011

 

“Help my, ek word beroof deur ‘n polisieman!” Dit was die drastiese uitweg wat ‘n inwoner moes volg toe hy probeer het om ‘n polisieman, wat na bewering roekeloos sou bestuur het, se besonderhede af te neem om hom te rapporteer.

Toe die polisieman, wat die rang van adjudant-offisier (AO) hou, besef dat sy naam en voertuigregistrasienommer neergeskryf word, het hy glo beserk te kere gegaan en gedreig om die man te arresteer vir “rassitiese gedrag.”

Mnr. William Stam het Dinsdag aan die Zoutpansberger vertel wat gebeur het. Hy was Maandagmiddag na werk op pad na die Checkerssentrum in Louis Trichardt vir ‘n vinnige paar inkopies toe hy sien hoe ‘n polisievoertuig op die hoek van Joubert- en Munnikstraat oor die kruising jaag, sonder om te stop.

“Met blou ligte en al het hy amper ‘n ander voertuig van die pad af gejaag,” het Stam vertel.

“Ek was verbaas toe ek sien die polisievoertuig stop by Checkers, en het toe besluit om die registrasienommer neer te skryf. Ek het gevoel dit is nodig om hom te rapporteer by die stasie; hy het soos ‘n maniak bestuur.”

Stam het ook die polisieman wat die voertuig bestuur het  vir sy naam gevra, waarop die polisieman dit verskaf het. Hy wou weet hoekom Stam dit wou hê. Nadat Stam vir hom gesê het dat hy hom wil rapporteer, het die polisieman vir Stam gesê, "Kom hier!", waarna hy sy humeur verloor het toe Stam wegloop. Dit was in hierdie stadium dat die polisieman rasistiese opmerkings begin rondslinger het.

“Onder andere het hy vir my geskreeu dat hy my gaan arresteer ‘omdat ek ‘n 'f $&*ken rassis is’,” het Stam gesê.

Met dié opmerkings het die polisieman Stam eers aan die gewrig gegryp en later ook sy notaboekie. "Hy wou my naam hê en ek het aan hom uitgewys dat ek 'n lid van die publiek is en nie nodig het om my naam vir hom te gee nie."

Die polisieman het Stam ook glo daarvan beskuldig dat hy ingemeng het met polisiesake, "want hulle was besig om 'n verdagte te jaag."

Nadat die polisieman herhaaldelik geweier het om Stam se notaboek terug te gee en nog een stryk deur gedreig het met arrestasie, het Stam uit radeloosheid om hulp geroep. Met die hulp van omstanders het Stam darem daarin slaag om sy notaboek terug te kry en het die polisieman teruggestaan.

“Ek wou gehad het sy [polisieman] optrede moet ondersoek word; hy werk vir my. Ek staan by wat reg is,” het Stam gesê. "Dit is nie reg dat die mense wat veronderstel is om ons te beskerm die wet breek nie."

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag bevestig dat hulle Stam se klag ontvang het en dat dit ondersoek sal word. "As ons lede die wet oortree, moet dit ondersoek en gestraf word," het hy gesê.

Stam het na afloop van die insident sy dank uitgespreek teenoor almal wat hom bygestaan het. Hy het ook ander inwoners uitgedaag om wangedrag aan te meld.

"As ons almal saam kla, sál ons 'n beter samelewing bewerkstellig."

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines