

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Keurige literêre dagboek vir 2004 is saamgestel deur die bekende digter uit plaaslike geledere, Fanie Olivier.
In die tagtigerjare het Perskor 'n literêre dagboek uitgegee, saamgestel deur Abraham H. de Vries. Dit het slegs vir een jaar verskyn. Fanie, 'n inwoner van Louis Trichardt, is genader om die verskyning van 'n literêre dagboek te laat herleef. Hy het besluit om vir elke nuwe jaarboek 'n tema te kies. Vanjaar se tema is Die See.
Prosa gedeeltes en poësie rondom hierdie tema verskyn vóór en ná die dagboekgedeelte van elke week. Meer as honderd reeds- gepubliseerde werke van tientalle skrywers en digters is in dié besondere dagboek opgeneem. Werke van skrywers soos Audrey Blignaut, André P. Brink en Pirow Bekker, en digters soos Uys Krige, Antjie Krog en Hennie Aucamp kom daarin voor, om maar net 'n paar op te noem. Die temagedig is "Ken jy die see …" van Uys Krige, uit Ballade van die groot begeer en ander gedigte.
Die verjaarsdae van skrywers, die datums van 2004 se belangrikste kunsfeeste, asook verlede jaar se literêre pryswenners is ingesluit. In die 'agternawoord' verskyn 'n lys van aanvullende gedigte rondom die see. Verder verskyn daar ook aan die einde van elke week 'n stukkie "Ken jou letterkunde". Dit bestaan uit aanhalings wat voltooi moet word. Die antwoorde verskyn in die stukke wat opgeneem is.
Professor Fanie Olivier het tot 1999 Afrikaans gedoseer by die Universiteit van Venda, waarna hy onregmatig afgedank is. In die daaropvolgende tydperk, wat gevul was met hofsake, stryd en onsekerheid, het Fanie ervaar dat sy eie skeppende werk nie tot volle reg gekom het nie. Fanie verwag binnekort finaliteit wat sy saak met Univen betref. Intussen is hy in November 2002 toegelaat as advokaat en praktiseer hy tans in die omgewing. Hy gee ook klas by Ridgeway College.
Vyf digbundels het al uit Fanie se pen voortgevloei. Verder is hy nie net 'n bedrewe vertaler in Afrikaans nie, maar ook 'n bekende samesteller van verskeie digbundels. Die mees onlangse is As die son kom oogknip, met werke van 'n honderd digters wat in 2002 verskyn het. Dan is daar ook die gewilde Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte- 'n nuwe keur waarvan die derde druk in 2001 uitgegee is.
Die tema vir die 2005 literêre dagboek is Treine. Fanie gaan ook splinternuwe ongepubliseerde werke daarin opneem en dus rig hy 'n oop uitnodiging aan skrywers om poësie of kort prosa rondom hierdie tema te skryf. Hy wil ook 'n CD met liedere rondom treine saam met die dagboek versprei.
Literêre dagboek 2004, saamgestel deur Fanie Olivier, word uitgegee deur LAPA Uitgewers, die uitgewery van die ATKV en verhandel teen R90. LAPA Uitgewers kan gekontak word by tel. (012) 401 0700 of per e-pos by [email protected] . Fanie Olivier kan bereik word by 082 925 1538.

ADVERTISEMENT:
