ADVERTISEMENT:

 

Bejaarde boer teiken van "arrogante" polisieman

 

News  Date: 16 January 2004

 

MUSINA – 'n Bejaarde hartlyer se lewe en persoonlike waardigheid is hier roekeloos op die spel geplaas deur 'n beweerde lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se taakspan by die Beitbrug internasionale grenspos.

In die insident, wat reeds op hoë vlak aangemeld is, is 'n bejaarde boer van Mopane na bewering met dreigemente verplig om by Beitbrug eiehandig 'n vrag lusern van sy voertuig af te laai, nadat hy gedwing is om teen aansienlike koste sy voertuig vanaf die Malaladriftpad tot op Beitbrug te bring, sodat die vrag ondersoek kon word.

Die boer, mnr. Faan Brits, wat homself onlangs in die omgewing van Mopane gevestig het, het vandeesweek met ontsteltenis vertel van die nagmerrie-ondervinding. Hy is vir etlike ure getreiter en in die openbaar verneder, nadat hy op die Malaladriftpad van die pad afgedwing is deur "'n arrogante man in slordige siviele drag en in 'n ongemerkte voertuig, wat homself as Inspekteur Tsikelele van die 'Grenspolisie' voorgestel het."

Mnr. Brits, wat onlangs vanaf Gauteng na Limpopo verhuis het, sê hy het op die oggend van 29 Desember, 91 bale lusern op die plaas van mnr. Awie van Biljon op die Malaladrifpad gaan laai vir voer op sy plaas naby Mopane. Hy is vergesel deur een van sy plaaswerkers, wat versoek het dat sy kinders wat vir die vakansie tuis was, die rit kon meemaak.

Mnr. Brits sê op pad terug, digby die brug oor die Sandrivier, het hy twee voertuie langs die pad bemerk, en aangery. Kort daarna het hy gesien 'n wit bakkie beweeg agter sy voertuig met 'n flikkerende hooflig.

"Dit is 'n betreklike stil pad en ek het onmiddellik aan die gevaar van 'n kapingspoging gedink. Ek het aanvanklik probeer om te versnel en weg te kom, maar ek is van die pad gedwing. Daar het 'n los bloulig aan die een kant van die voertuig se dak gehang, en 'n man, in 'n langbroek wat net tot by sy enkels gekom het, het na my venster gekom en sy hand in sy sak gesteek. Ek het die ergste verwag," het mnr. Brits gesê.

Die man, in siviele drag, het 'n houer uit sy sak tevoorskyn gebring waarin hy as 'n polisiebeampte geïdentifiseer word. Hy wou weet wat op die vragmotor se bak is en waar dit vandaan kom. Mnr. Brits het hom meegedeel dat dit lusern is wat hy by die nabygeleë plaas van mnr. Van Biljon gekoop het. Die man het gesê die vrag moet afgelaai word, sodat hy dit kan ondersoek. Mnr. Brits het voorgestel dat die aflaaiery op mnr. Van Biljon se plaas gedoen word, waar daar heelwat werkers beskikbaar is. Die man het egter daarop aangedring dat hy moet saamry na Beitbrug toe, sodat die vrag vir dagga getoets kon word. Hy het gesê daar is 'n vurkhyser beskikbaar by Beitbrug.

Mnr. Brits het beswaar gemaak en wou weet wie vir die koste van die rit na Beitbrug toe gaan betaal.

"Hy het baie arrogant vir my gesê - Jy sal betaal."

Hy is deur Musina na Beitbrug begelei, waar vasgestel is dat daar nie 'n vurkhyser beskikbaar is nie. "Hy het my beveel om die lusernbale af te laai. Ek het beswaar gemaak en hom daarop gewys dat ek 'n hartlyer is, en ook nie meer 'n jong man is nie. Hierop is hy daar weg en het met 'n ander persoon teruggekeer, wat my meegedeel het dat die voertuig en vrag gekonfiskeer kan word as ek die vrag nie aflaai nie. Tsikelele het sy arrogante opmerkings voortgesit.

Ek en my plaaswerker het begin om die bale af te laai en sy kinders het later begin help om die bale nader te stoot. Skielik het die man wat homself as Inspekteur Tsikelele geïdentifiseer het, een van die kinders gegryp en rondgeruk en my gekonfronteer met die vraag: 'Werk hulle vir jou?' Hy het gedreig om my te laat toesluit as ek van kinderarbeid op my plaas gebruik sou maak. Ek het hom daarop gewys dat die kinders bloot besig is om hulle pa te help. Hy het my weer gedreig en vir my gesê ek moet my landswette leer sodat ek kan weet wat aangaan. Teen hierdie tyd het 'n groot getal omstanders nader gestaan om te kyk hoe ons die vrag eiehandig moet aflaai. Ons is gedwing om tot die laaste enkele baal af te laai, en is toe weer tot groot vermaak van die omstanders beveel: 'Orait, laai terug'.

"Ons is ook verplig om die lusern krummels wat op die laaiplek geval het, met die hande op te vee."

Om drie-uur die middag was die uitslag van die ondersoek toe bekend: Die vrag bestaan uit lusern gemeng met gras.

Tsikelele het sonder meer bloot weggery.

Mnr. Brits sê dit is 'n onbeskryflike magtelose gevoel, wanneer jy so, op 'n plek waar jy niemand ken nie, deur mense wat veronderstel is om jou te beskerm, soos 'n misdadiger behandel te word.

Die aangeleentheid is onder die aandag van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie gebring. 'n Woordvoerder het bevestig dat die aangeleentheid dringend aandag kry. Die voorval is ook onder die aandag gebring van die SAPD in Polokwane. 'n Woordvoerder van die polisie in Polokwane het 'n afskrif van die artikel aangevra wat later dié week deurgegee sal word aan die grenspolisie op Beitbrug vir kommentaar.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines