

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die oorspronklike nommerplaat van die "Princess Alice" stoomlokomotief – op sy dag die grootste lokomotief in Afrika – is nou in die besit van plaaslike stoomkrag geesdriftige, mnr. Hansie Uys.
Mnr. Uys het lokomotiefnommerplaat 2351 onlangs in ontvangs geneem, nadat hy dit vroeër na 'n soektog van meer as 30 jaar opgespoor het.
Die oorspronklike nommerplaat is van die unieke lokomotief verwyder, en vervang met 'n herontwerpte nommerplaat, nadat die lokomotief amptelik vernoem is na prinses Alice, eggenote van die Graaf van Athlone, toenertydse Goewerneur Generaal van Suid-Afrika.
Mnr. Uys se belangstelling was gaande, nadat hy in 1960 'n geraamde foto van die buitengewone lokomotief in die plaaswoning van mnr. Hannes van Wyk gekry het. Die foto is in 1929 geneem toe die lokomotief van die skip afgelaai is. Dit was een van vier lokomotiewe van die Garret-klas wat vir Suid-Afrika bestem was. Een van die lokomotiewe is ter see verloor, nadat die koppeltoue losgeruk en die reuse lokomotief oorboord gestort het. Die oorblywende drie is intussen na jare se diens, in skrootwerwe gesloop.
Lokomotief 2351, wat in Manchester vervaardig is, is in 1931 gebruik om die spesiale ampstrein te trek, waarin die koninklike egpaar Prins Alexander van Teck (oom van koning George VI en bekend as die Graaf van Athlone) en Prinses Alice – 'n kleindogter van koningin Victoria, as goewerneur-generaalspaar in Natal gereis het. Hulle was so beïndruk met die kragtige lokomotief, dat hulle op eie versoek 'n gedeelte van die reis tussen Cato Ridge en Umlaas op die voetplaat in die lokomotief deurgebring het.
Alhoewel dit nooit die gebruik was om koninklikes se name aan lokomotiewe te gee nie, was die egpaar so ingenome met lokomotief 2351, dat Prinses Alice gretig ingestem het tot 'n versoek dat haar naam aan die lokomotief gekoppel kon word. 'n Spesiale naamplaat is deur die spoorweë se hoof meganiese ingenieur, mnr. A.G. Watson, ontwerp, waarop Prinses Alice se naam bo-kant die nommer gepryk het.
Mnr. Uys het by Koedoespoort in Pretoria navraag gedoen oor die oorspronklike plaat, waarop net die nommer verskyn het. Dit kon egter nêrens opgespoor word nie.
"Die nommerplaat het my vir meer as dertig jaar ontwyk," vertel Mnr. Uys.
"Toe gaan kuier ons eendag by vriende in Pretoria en my vrou merk 'n lokomotief nommerplaat teen die muur van die woning van mnr. en mev. H.C. van Zyl. Sy wys my daarop en, siedaar, dit is die regte een wat ek so lank al soek. Mnr. Van Zyl het my vertel die Spoorweë het die nommerplaat met sy uittrede as 'n aandenking aan hom geskenk. Hy was met sy uittrede Afdelingskontroleur Rollende Materiaal, Noord-Transvaal. Daar en dan het die gesin ons egter beloof dat die nommerplaat in hul boedel aan ons bemaak sal word."
Mnr. Van Zyl is onlangs oorlede en sy eggenote het daarop aangedring dat Mnr. Uys die nommerplaat kom haal.

ADVERTISEMENT:
