

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Wydlopende verset teen die Baobab tolhek het vandeesweek 'n nuwe wending geneem, met 'n formele beswaar teen die vernietigende uitwerking van die tolhek op sekondêre paaie in die omgewing.
Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie het in 'n faks aan die LUR vir Vervoer, dr. Farisani, versoek dat dringende prioriteitsaandag aan die aangeleentheid gegee moet word.
In die skrywe word dr. Farisani verwys na vorige gesprekke en telefoniese oproepe in dié verband en vestig sy aandag daarop dat swaar vragmotor verkeer drasties toegeneem het op naby geleë sekondêrepaaie, sedert die opening van die Baobab Tolhek. Die betrokke paaie is die Waterpoort/Mopaniepad (744), die Huntleighpad (1021), die Bokmakierie / Mopaniepad (777), die Tshipise/Mopaniepad (P135/1) en die Nzheleledriftpad (748).
Op die Bokmakierie/Mopanie/Waterpoortpad is by geleentheid tot vyftien vragmotors per uur getel.
Die toename in verkeer lei tot 'n gevolglike toename in risiko, 'n toename in ongelukke en veral 'n toename in slytasie op die grondpaaie waarvan die plaaslike gemeenskap afhanklik is.
Die skrywe lui: "Hierdie probleem is reeds op verskeie forums bespreek – oproepe is gedoen met selfs beloftes vanaf die LUR, Dr. Farisani, dat die probleem teen Oktober 2003 reggestel sou wees. Tot op datum is daar egter nog geen reaksie en nog minder resultate sigbaar.
"Ons versoek u vriendelik, dog uiters dringend, om hierdie saak as prioriteit aan te spreek en ons is soos altyd gereed om u daarin te ondersteun.
"By gebrek aan reaksie sal ons as gemeenskap nie anders kan as om sinvolle oplossings langs ander weë te probeer nie."
Afskrifte van die skrywe is ook deurgestuur vir die aandag van die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit en die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap.

ADVERTISEMENT:
