ADVERTISEMENT:

 

Slegs 'n nuwe hart kan HO red

 

News  Date: 16 January 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Spoedige hartoorplanting kan die lewe red van die 45-jarige mnr. Jan Erasmus van Werda Motors.

Mnr. Erasmus, vanaf sy rugbydae af beter bekend as HO Erasmus, is gediagnoseer met hartversaking. Hierdie komplikasie het ontwikkel na 'n gewone griep in Augustus 2003. Erge swelling van sy buik en bene het genoodsaak dat hy in Oktober verskeie kere in die Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem is. Sy hart werk nog net 14% en is baie vergroot. Alle toetse het aangedui dat 'n hartoorplanting die enigste oplossing vir sy toestand is.

Erasmus is op 9 Desember in Milpark in Johannesburg opgeneem vir toetse om te kyk of hy 'n gepaste ontvanger sal wees. Die toetse was positief en hy is op die hartoorplantingslys geplaas. Tans wag hy op 'n gepaste skenker.

Sodra HO dié lewensbelangrike oproep ontvang, moet hy binne vier ure vanaf Louis Trichardt na Milpark reis en gereed wees in die teater. Omdat tyd so 'n groot faktor is, moet hy per lug reis. Dit bring ook koste-implikasies mee.

Ná die hartoorplanting, bly die pasiënt vyf dae in intensiewe sorg en daarna in 'n gewone saal vir nog 'n week. Dit is dan die belangrike wagtyd om te kyk of die liggaam die hart gaan aanvaar. Vir die volgende ses weke word daar elke week 'n biopsie gedoen. Gedurende dié tyd moet hy in Johannesburg aanbly.

Reis en verblyf is 'n groot koste faktore, asook duur medisynes wat nie alles deur die mediese fonds gedek word nie. Om daardie rede is daar 'n hulpfonds in die lewe geroep om HO Erasmus by te staan met die hartoorplanting.

Wat die skenker betref, sê mev. Heila Erasmus (eggenote), dat hulle alreeds die bedankingsbrief aan die familie van die komende skenker moes skryf om in te handig by die hospitaal.

"Dit was 'n moeilike brief om te skryf, want wat sê 'n mens nou in so 'n geval? Die familie is hartseer oor die dood van die skenker," sê Heila.

Dit is nie die eerste keer dat Heila met 'n skenker te doen het nie. Nege jaar gelede was sy die ontvanger van 'n lewer toe sy 'n leweroorplanting ondergaan het. Die medici wat met oorplantings werk sê dat dit baie onwaarskynlik is dat 'n man en vrou in dieselfde gesin beide orgaanoorplantings moet ondergaan. Dit gebeur soms nog met nieroorplantings, maar nie met ander orgaanoorplantings nie. Dit het egter met die Erasmusse gebeur. Na nege jaar begin Heila se liggaam nou haar oorgeplante lewer verwerp. Heila sê dat die sterkste pille teen verwerping R30 000 per maand kos en dat die medies fonds net 70 % dek.

Heila fokus egter nou eers haar volle aandag op die ondersteuning van haar man. Die egpaar het drie kinders, Wynand (16), Heila (15) en Jolené(14). Hulle sal hierdie jaar by familie op Nylstroom bly en daar skoolgaan, sodat dit minder ontwrigtend vir hulle sal wees wanneer hul ouers vir lang tye in Johannesburg moet bly.

Inwoners ken vir HO as die onderdeleverkoopsman by Werda Motors. Hy het die afgelope veertien jaar daar gewerk voordat hy onlangs medies ongeskik verklaar is. Desnieteenstaande werk hy nog soggens daar as dit vir hom moontlik is. Verder is hy ook bekend as ywerige gholfspeler.

Gerieflikheidshalwe kan bydraes vir die hulpfonds ook gemaak word by die Louis Trichardt Gholfklub, die Spur en Werda Motors. Inbetalings kan gemaak word vir Jan Erasmus, Eerste Nasionale Bank Louis Trichardt, rekeningnommer 52860048382. Die Erasmusse sê baie dankie vir die skenkings wat alreeds ontvang is.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines