

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2011
Mnr. Flip Greyling van PJ Timbers in Louis Trichardt het hier kort voor Kersfees nie veel om oor te glimlag nie.
Dit nadat booswigte verlede Woensdagaand die heiningdrade agter sy onderneming in Unikastraat geknip het en al ses sy drie-en-‘n-half ton afleweringsvoertuig se bande en wielvellings afgesteel het. Hulle het ook nog die vermetelheid gehad om dié verfoeilike daad met sy eie wielsleutel en domkrag te pleeg en dit ook sommer weg te dra.
“My haat raak net al groter ... elke dag dink ek wat moet ek doen om hulle [die misdadigers] te stop. Maar dit is nie die moeite werd om oor een ou in die tronk te gaan sit nie,” het ‘n sigbaar ontstoke Greyling Vrydag gesê. Sowat drie weke vantevore het hulle ook die heiningdrade geknip, twee sinkstore oopgesny en dit geplunder.
Greyling sê die goedkoopste kwotasie wat hy kon kry om die bande en vellings te vervang, beloop sowat R22 000. Dit sluit nie in dit wat hy aan inkomste verloor nie. “Die kliënte kla, want ek kan nie aflewer nie,” het Greyling gesê. Die diefstal en inbrake is vir hom ‘n bitter pil om te sluk.
“Die vorige onderneming waar ek gewerk het, het toegemaak want hulle bly net steel. Diefstal maak besighede toe en kos baie mense hul werk,” het Greyling gesê.
By verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die diefstal by Greyling verlede week nie ‘n geïsoleerde voorval was nie en dit is duidelik dat iemand daar buite ‘n goeie afsetgebied vir hierdie grootte bande het. Sowat ‘n maand-en-‘n-half gelede het mnr. Lukas Visser van Pro-Fit ook deurgeloop. Ook by hom is dieselfde grootte bande en vellings van ‘n drie-en-‘n-half ton trok afgesteel. Feitlik net oorkant die straat, by Laeveld Stene, was mnr. Martin Barnard einde verlede maand die teiken. By hom is die vier agterste bande van sy drie-en-‘n-half ton afleweringstrok afgesteel. In al die gevalle is die saak by die polisie aangemeld.
Met verwyssing na die diefstalle by Visser en Greyling het Barnard gesê hy is bewus van hulle skade, maar dat daar dalk heelwat ander mense is wat ook sulke verliese gelei het waarvan hulle nie weet nie.
Intussen het Greyling ‘n R5 000 beloning uitgeloof vir enige iemand wat kan help met die arrestasie en skuldigbevinding van die mens(e) wat verantwoordelik was vir die diefstal by hom. Indien iemand kan help, kan hulle hom skakel by tel. 015 516 3413.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
