

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2011
Die lang arm van die gereg het uiteindelik 10 vermeende wilddiewe bygekom.
Nege van die 10 het verlede Donderdag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op ‘n klagte van onwettige jag van bedreigde diere sonder die nodige permitte.
Die bende is Dinsdag, 6 Desember, aangekeer nadat die polisie se honde-eenheid op ‘n wenk gereageer het.
‘n Toyota Hilux bakkie is op die grondpad buite Madombidzha afgetrek. Agter op die bak is die karkasse van verskeie wilde diere gekry – met oopgekloofde skedels. Daar was altesaam agt vlakvarke, waarvan vier speenvarkies was, een arend, een aardvark en twee jakkalse. Die bestuurder is op die toneel gearresteer. Sy makkers is later tydens ‘n opvolg operasie gearresteer.
Volgens inligting het die mans gebruik gemaak van sewe honde om die wild aan te keer en van kant te maak. Die wild is glo in die omgewing van Lugmagbasis Makhado gejag, moontlik om aan die plaaslike muthi-mark te smous.
Provinsiale polisiewoordvoerder lt. kol. Ronel Otto het verlede Vrydag bevestig dat die moontlikheid bestaan dat die bende ook met verskeie voorvalle van onwettige jag verbind kan word.
Die mans, Sipho Tovhakale (23), Livhuwani Blondie Zwiitwaho (29), Godfrey Manganye (29), Lindelani Nugudza (27), Azwihangwisi Radzilani (23), Pandelani Justice Mukwevho (27), Mpho Siebane (32), Hlupeka Enock Maluleke (30) en Winnes Mhongo (20) het saam Donderdag in die hof verskyn. Die tiende verdagte, ‘n 16-jarige seun, is in die sorg van sy ouers vrygelaat, nadat alle klagte teen om teruggetrek is.
Sy makkers se saak is tot hierdie week Woensdag uitgestel vir ‘n formele borgaansoek. Teen druktyd was die uitslag nog onbekend.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
