

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2011
Vir die De Beer-gesin van Louis Trichardt gaan hierdie Kersseisoen ‘n donker een wees…
Hulle jongste, klein Jacques (10), is sedert Maandag, 5 Desember, in en uit die hospitaal, nadat sy kopvel deur ‘n boerboel afgeskeur is.
“Daar was so baie bloed gewees …” vertel ma Erika vanuit die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. Jacques is rustig en slaap, terwyl hy wag vir die teater om oop te gaan. Erika werk by die Lugmagbasis Makhado se mediese sentrum en pa Andries is ‘n vlugsersant.
“Die teater is ongelooflik besig - ons is nog nie seker wanneer ons gehelp gaan word nie,” het Erika gesê.
Jacques wag vir ‘n operasie waarin dié deel van sy kopvel wat hulle kon red, weer verwyder moet word.
“Die vel wou nie weer aan sy skedel heg nie.”
Jacques het dié dag van die voorval by ‘n maatjie gekuier toe die boerboel om gegryp het.
“Niemand weet hoekom die hond hom gebyt het nie,” sê Erika.
“Die hond ken vir Jacques.”
Die boerboel het, terwyl Jacques hom getroetel het, hom aan die kop gebyt en rondgepluk. In die proses is die kopvel losgeskeur. Aanvanklik het niemand agtergekom dat Jacques se kopvel afgeruk was nie - daar was te veel bloed. Die maatjie se ma het net handdoeke gebring, om sy kop gedraai en deurgejaag na die mediese sentrum.
Dit was by die mediese sentrum, terwyl daar gepoog is om al die bloed te stop, dat die omvang van Jacques se wonde besef is. “Al drie lae vel is afgeruk.”
Jacques se kopvel is tussen die boerboel se beddegoed teruggekry. Van hierdie stuk vel is ‘n dun lagie afgesny en op ‘n deel van Jacques se kopwonde terug “geplak”.
Van die basis is Jacques per ambulans na die MediClinic in Polokwane gehaas. Omdat sy kopvel nie lekker terug wou groei nie, moes hy hierdie week na Pretoria geneem word vir chirurgiese behandeling. Vir eers, verduidelik Erika, sal die dokters klein chirurgiese ballonnetjies langs die snywonde inplant. Dié ballonnetjies moet dan elke dag opgeblaas word, sodat sy vel kan rek en dan hopelik oor die wonde toegroei. As dit nie werk nie, sal daar gekyk word na veloorplantings.
Intussen is Jacques se ouboet, Ian (13), ook in Pretoria om ‘n spesialis te sien. Ian het feitlik al die gehoor verloor in een van sy ore. ‘n Gaatjie wat nie heeltemal toegegroei het nadat sy dreineringspypie uitgehaal is nie, is die oorsaak. Hy is ook tans in remissie, nadat hy leukemie gehad het toe hy maar net 14 maande oud was. Intussen is Erika met fibromyalgia, ‘n pynlike siekte wat die spiere en weefsel aantas, gediagnoseer. Kort voor haar kinders se hospitalisasie is Erika se bankrekening ook nog gekloon en is vir drie maande gevries, hangende ‘n ondersoek. Asof dit nie erg genoeg is nie, het die familie se bullterrier die naweek nog sy been ook gebreek.
“Die Kersfees gaan maar bedruk wees. Ons sal volgende jaar weer ‘n poging aanwend,” het Erika gesê.
Intussen is die boerboel wat vir Jacques gegryp het, kort na die voorval vankant gemaak.
Erika het almal bedank wat gebel het, boodskappies gestuur het en vir hulle gebid het.
“Ons is baie geseënd en dankbaar dat die Here ons op ons knieë hou.”
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
