

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Elke druppel reën help. Te midde van ‘n droogte wat bestempel word as die ergste droogte in negentig jaar, het die reënbuie in Desember tog ‘n sprankie hoop en afkoeling gebring.
Terwyl boere steeds geknel word deur die droogte, was talle vakansiegangers dankbaar vir ‘n bietjie afkoeling. By Tshipise het die kwik op 21 Desember tot oor die 40ºC gestyg. ‘n Paar klein reënbuitjies, ook op Kersdag en die dag daarna, het vakansiegangers heerlike koel dae besorg. Van 27 tot 30 Desember het die maksimumtemperatuur in die 20 grade geboer.
Op Tshipise het dit in Desember 37,1mm gereën, terwyl die normale reënval vir dié tydperk 57,5mm is.
Op Musina was die hoogste temperatuur in Desember 42.6ºC op 21 Desember. Daarna het ‘n bui reën verligting gebring. Die totale reënval vir Desember was 38,5mm. Volgens die weerkantoor in Pretoria reën dit normaalweg 57,0mm oor dieselfde tydperk.
Op Louis Trichardt het die Makhado Munisipaliteit se reënmeter 88,11mm in Desember gemeet. Neerslae van 47,51mm op 3 Desember en 27,4mm op 22 Desember het veral lafenis gebring. Op 1 Januarie het ’n bui van 47mm nuwe hoop gebring, maar die damvlak wek steeds kommer. Die Albasinidam, wat op 3 Desember op 47,51% gestaan het, het hierdie week nog verder gesak na 45,27%.
Levubu se reënval in Desember was 92,3mm teenoor ‘n normale reënval van 136mm. Thohoyandou het die hoogste reënval in die streek getoon, met 103mm (normaalweg 136mm).
Mara het ‘n reënval van 70,1mm getoon vir Desember, wat nie ver van die normale reënval van 78mm is nie. Inwoners van Mara was ook verheug oor ‘n stewige neerslag van 50mm die afgelope naweek.
Soekmekaar het ‘n droë Desember beleef, met net 11mm reën (normaalweg 84,9mm). Alldays het nie ‘n druppel reën in Desember gehad nie, terwyl die normale reënval daar 57.2mm is.
Volgens TLU SA is die omvang van die droogte sorgwekkend en gaan dit jare van goeie reënseisoene neem vir droëland-, vee- en wildboere om van dié droogte te herstel.
Nogtans bly mense hoopvol. Dr. Philip Venter praat namens ‘n groot groep geestelike leiers in Louis Trichardt. “Oral in al die kerke bid die mense vir reën en ons bly glo dat die Here sal antwoord,” sê dr. Venter.

ADVERTISEMENT:
