ADVERTISEMENT:

 

Oud-Triegie wil mediese deurbraak maak

 

News  Date: 09 January 2004

 

Pasiënte wat altyd moeg is en pyn ervaar, kan ‘n deurbraak verwag na aanleiding van die interessante navorsing van Jeanette Craig, ‘n oudleerling van Hoërskool Louis Trichardt.

Jeanette, wat in 1998 gematrikuleer het, is tans besig met ‘n meestersgraad in Fisiologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy gaan ook hierdie jaar ‘n honneursgraad in Sielkunde aanpak. Jeanette is vir Januarie in die dorp en benodig gesonde kontrole persone vir haar navorsing.

“Tot dusver het menige medici gepoog om siektes te behandel deur net op die fisiese liggaam te fokus. Die mens se liggaam en siel beïnvloed mekaar egter heeltyd, daarom is dit onmoontlik om dit geïsoleerd van mekaar te bestudeer,” sê Jeanette. Weens haar belangstelling in beide siel en liggaam, het Jeanette besluit om met ‘n sogenaamde psigosomatiese siekte, fibromialgie, te werk.

“Meer bekende voorbeelde van psigosomatiese siektes is Yuppie griep en asma,” sê Jeanette. Sy verduidelik dat fibromialgie pasiënte chronies gebuk gaan onder pyn, moegheid en ‘n oneindige lys ander simptome. Hulle is alreeds uitgeput deur al die mediese toetse wat hulle ondergaan in hul soektog na genesing, maar die toetse is dikwels negatief.

“So byvoorbeeld wys ‘n EKG toets ‘n normale lesing, omdat dié toets nie hartspoed variasie meet nie,” sê Jeanette.

‘n Belangrike deel van Jeanette se navorsing handel oor hartspoed variasie. By ‘n gesonde persoon is daar variasie tussen opeenvolgende hartslae. By fibromialgie pasiënte word ‘n verlaagde hartspoed variasie aangetref. Dit kan ‘n indikasie wees dat hul simpatiese senuweestelsel ingeperk is, wat beteken dat hul veg-vlug reaksie nie voldoende funksioneer nie. Jeanette verkry verder die pasiënte se breindominansie en sielkundige agtergrond. Sy toets die kortisolvlakke, ‘n emosionele streshormoon, wat ook in die speeksel voorkom.

Jeanette se verhandeling is getiteld ’n Psigo-neurologiese profiel vir fibromialgie. Deur haar navorsing wil Jeanette wetenskaplik bewys dat die pasiënte se fisiese simptome werklik is. Daarby wil sy bepaal watter sielkundige faktore betrokke is.

“Die pasiënte se spanning word vergroot deur die feit dat die mense naby aan hulle, dink hulle sit aan. Fibromialgie word gesien as ‘n chroniese siekte wat lewenslank aanhou. Ek glo dat as die sielkundige faktore opgelos word, die pasiënt kan herstel na ‘n paar jaar in plaas van om 35 jaar of langer met die siekte te worstel,” sê Jeanette. Jeanette glo dat verskeie siektes slegs oorwin kan word deur ‘n multidimensionele benadering. Verder sal die kennis wat opgedoen word deur met psigosomatiese siektes te werk, ook van toepassing gemaak kan word op ander kroniese en selfs terminale toestande.

Buiten ‘n meestersgraad in fisiologie, beplan Jeanette ook om in die toekoms ‘n meestersgraad in sielkunde te doen. “My motivering daarvoor is dat ek ondersteuningsgroepe wil stig en fasiliteer vir sogenaamde kroniese siektes. Ek wil poog om met behulp van psigoterapie genesing vir vroeë “kroniese” toestande te bring, of indien dit nie moontlik is nie, die pasiënte se lewenskwaliteit te verhoog,” sê Jeanette.

Vir haar navorsing benodig Jeanette vier gesonde kontrole persone, wat in Januarie getoets kan word. Die toetse behels twee sessies van ongeveer 40 minute elk op twee agtereenvolgende oggende. Sy benodig:

* ‘n 33-jarige dame, met ‘n gewig van tussen 68 en 73 kg en ‘n lengte van tussen 168 en 175 cm. * twee 48-jarige dames, die een met ‘n gewig tussen 66 en 70kg en ‘n lengte van tussen 160 en 168cm en die ander een met ‘n gewig van tussen 76 en 82kg en ‘n lengte van tussen 167 en 173 cm; * ‘n 40-jarige man met ‘n gewig van tussen 80 en 90kg en ‘n lengte van tussen 174 en 180cm.

Persone mag twee jaar jonger of ouer wees as die voorgestelde ouderdom. Hulle hoef nie fiks te wees nie, maar moet op geen kroniese medikasie wees nie. Persone wat aan bogenoemde vereistes voldoen en bereid is om deel te wees van ‘n belangrike navorsingsprojek, kan Jeanette so spoedig moontlik skakel by tel. 082 324 8231.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines