ADVERTISEMENT:

 

Geen wegkomkans vir wilddiewe nie

 

News  Date: 31 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Ons weet wie die jagters is. Ons weet waar hulle bly en al kruip hulle nou vir 'n paar weke weg, sal hulle terugkom en gearresteer word," sê mnr. Jaco Nel van Soutpansberg Kriminele Ondersoek (SKO).

Mnr. Nel is van mening dat wilddiefstal gepleeg word deur 'n uitgebreide, goed georganiseerde netwerk van onwettige jagters. Hy sê 'n spanpoging tussen boere, die polisie, die gemeenskap en privaat ondersoekspanne kan die netwerk moontlik 'n goeie knou toedien.

Tydens 'n onwettige jagpoging op 21 Oktober in die Bandelierkop-omgewing, is een verdagte aangekeer wat op sy beurt as staatsgetuie sal optree om die res van die groep vas te trek. 'n Volwasse koedoebul, met horings van drie en 'n halwe draai, is op wreedaardige wyse deur die jagters van kant gemaak.

In daardie spesifieke voorval het 'n privaat ondersoekspan inligting ontvang van 'n beriggewer dat persone onwettig jag op die plaas Last Post Nature Reserve naby die Driekoppiespad. Met die span se aankoms, was twee van die koedoebul se boude reeds weggedra, terwyl die res van die vleis versteek was onder takke. Dit was duidelik dat die onwettige jagters sou terugkeer om die vleis te kom haal. Voorlêdienste is gereël en die verdagtes is ingewag. 'n Groep van vyf persone met sewe honde het later teruggekeer. Van die persone is dadelik geïdentifseer. Een van hulle is aangekeer.

"Die dag ná ons die saak aangemeld het en gekla het oor swak bystand, is arrestasies gemaak. Die nuwe bevelvoerder by Bandelierkop, 'n dame, het uitstekende bystand verleen en dadelik twee voertuie uitgestuur, iets wat nog nooit tevore gebeur het nie," sê mnr. Nel.

Die nuwe bevelvoerder, Kaptein Sivhula, het op 1 Oktober diens aanvaar. Sy is tans met studieverlof tot middel November. Kaptein Mahomani van Bandelierkop SAPD het op Woensdag (29ste) bevestig dat daar 'n verskerpte poging aangewend word om onwettige jagtery te bekamp.

Die inligtingsnetwerk van SKO is bewus van vyf of ses groepe jagters, bestaande uit een tot sewe mense, by elk van die volgende plekke: Mpeni, Elim, Vleifontein, Mailaskop Totololo, Thabalala, New Stands, Ramakgopa, Matoks Sekakeni, Madombidzha en Ravele. Op Sekakeni is hierdie maand 25 persone geïdentifiseer as onwettige jagters. Hierdie plekke is almal in 'n radius van 70 km om Louis Trichardt. Die onwettige jagter wat met die voet loop, pla enige boer in 'n radius van 10km. Die hoofde van die jagtersnetwerke neem dikwels minderjarige kinders in diens om die jagwerk te doen. In die skoolvakansies is daar dan ook 'n skerp toename in onwettige jag.

Die persoon wat op 21 Oktober aangekeer was, is 'n minderjarige kind van 16 jaar. Hy het aan die Zoutpansberger bekend gemaak dat hy ongeveer drie maal per week jag en dat sy betaling 'n stuk van die vleis is. Die onwettige jagtersnetwerke buit kinders uit en maak hulle betrokke by misdaad. Een van die jagters het aan SKO bekend gemaak dat hy R10 000 per maand verdien uit onwettige jag en die verkoop van die vleis. Diegene wat in besit betrap word van onwettige vleis, kan slegs 'n maksimum boete van R1500 opgelê word.

Sersant Netshivumbe het op Woensdag (29ste) deur Mailaskop beweeg met 'n voorbereide pampflet wat inwoners bewus maak van die feit dat onwettige jag 'n ernstige oortreding is. Netshivumbe sê dat hy glo dat bewusmaking van die gemeenskap een van die beste maniere is om die probleem te bekamp.

Mnr. Nel het op sy beurt boere aangemoedig om betrokke te raak in die stryd teen onwettige jagters. "Die onwettige jagter loop dikwels deur sewe plase en jag voordat hy aangemeld word. As boere betrokke raak, kan hy sommer al op die eerste plaas vasgetrek word."

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines