

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 December 2011
Die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 en die omstandighede daar rondom, het as’t ware lewend geword, terwyl die feesspreker dit geskets het by die Nuwelust Geloftefees op Linten op 16 Desember vanjaar.
Mnr. Leon du Plessis van Louis Trichardt, sakeman en voormalige geskiedenisonderwyser, het feesgangers geboei met die verhaal van die slag van Bloedrivier, waar daar wonderwerke plaasgevind het wat bygedra het tot 'n oorwinning van 464 manskappe teenoor 'n aanval van 36 regimente met tussen 800 en 1000 soldate in 'n regiment.
In dié slag is slegs drie boere gewond: kommandant-generaal Andries Pretorius, Gert Raath en Philip Fourie teenoor duisende Zoeloes waarvan 3 000 gesneuweldes net om die laer getel is. B.J. Liebenberg skryf in sy boek Andries Pretorius in Natal: “Dit is die grootste aantal mense wat ooit in 'n enkele geveg op Suid-Afrikaanse bodem gesneuwel het … die geveg by Bloedrivier is ongetwyfeld die grootste militêre prestasie in die geskiedenis van Suid-Afrika.”
Du Plessis noem die aanhaling, maar vra die vraag: “Kan die Boerevolk roem op hulle militêre prestasies tydens die slag van Bloedrivier soos Liebenberg skryf?” Later gee hy die antwoord: “By Bloedrivier was dit die krag van geloof en die reddende genade van ons almagtige, ewige, hemelse Koning.”
Eers moet die gebeure wat die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het, begryp word. Du Plessis het met behulp van 'n DVD die beroemde bulhoring aanvalstrategie, ontwerp deur Zoeloekoning Tjaka en gebruik deur sy opvolger, Dingaan, verduidelik. Op 6 Februarie 1838 het Dingaan vir Piet Retief en sy manskappe, wat in vrede na Umgungundlovu gekom het, wreed laat vermoor. Hierdie moord asook vele ander noodlottige aanvalle en rooftogte teen die Voortrekkers, het die Voortrekkers moedeloos en feitlik leierloos gelaat. Aanvalle was ook teen weerlose vrouens en kinders gemik.
“Teen die einde Augustus 1838 kry die Trekkers die nuus dat die skitterende krygsman en begaafde leier, Andries Pretorius, se trek die Kaap verlaat het ... Hy het beloof om te help om Dingaan te straf vir die gruweldade wat hy die Boere aangedoen het. Gou was 464 man met 57 waens op pad na Umgungundlovu,” sê Du Plessis.
Die perfekte terrein vir die opslaan van die laer van die Boere word deur Du Plessis as een van die wonderwerke genoem. Die terrein het daartoe bygedra dat die geoefende bulhoring aanvalstegniek van die Zoeloes verander moes word. Nog 'n wonderwerk is dat “Tsjaka reeds 30 jaar voor die slag die een werp-assegaai vervang het met 'n breëlem steek assegaai,” sê Du Plessis. Die assegaai is vir man-tot-man gevegstrategie gebruik, wat nie in hierdie aanval gewerk het nie.
Wonderbaarlik het die Zoeloes ook nie in die nag 'n aanval geloods, soos wat hul gewoonte was nie. Later is Zoeloes wat die slag oorleef het, daarna uitgevra en hulle het gesê dat dit gelyk het of daar geeste was wat die laer oppas. Hulle het teen ligdag aangeval.
Die wegbly van die reën net vanaf 14 tot 16 Desember was vir die Boere 'n wonderwerk, want sodoende kon die kryt van hul gewere droogbly. Op 'n wonderbaarlike wyse het die beeste en perde gedurende die hele slag doodstil bly staan.
Na die slag het “Andries Pretorius besef dat hulle deur die liefde en genade van God Almagtig gered is van 'n gewisse dood,” sê Du Plessis. Die traktaat, onderteken deur Dingaan, is in die bladsak van Retief by sy beendere by Umgungundlovu gevind. “Die Voortrekkers het nou 'n wettige aanspraak op die beloofde grondgebied gehad,” sê Du Plessis.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
