

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 December 2011
‘n Gedenknaald op Linten is die stille getuie dat daar sedert 1938 elke jaar ‘n geloftefees op die terrein gehou word.
Leeujagter, oom Steve van der Walt (87), is die enigste oorlewende persoon in die gemeenskap wie se naam op een van die stene van die monument verskyn. Oom Steve is op 9 September 1924 gebore. Hy was dus so agtien toe die monument opgerig is. Elke man het self ‘n klip op sy plaas uitgekap, sy naam daarop gegraveer en die klip in die monument kom inbou.
Die monument is op die Nuwelust Veilingskrale en Feesterrein, sowat 65km wes van Musina. Die grond is aan die Geloftefeeskomitee geskenk.
“Hier is baie herinneringe. Mense het vir ‘n week hier kom uitkamp vir die Geloftefees. Abraham Venter het die eerste keer ‘n motorkar gekoop. Hulle kon nie bestuur nie en het ‘n disselboom aan die kar gesit en dit deur die osse laat trek tot op die feesterrein!” vertel Oom Steve.
Oom Steve was bekend daarvoor dat hy nie ‘n bang haar op sy kop vir ‘n leeu gehad het nie. Hy is gewoonlik deur die boere in die omgewing gekontak as hulle las gehad het met leeus. Hyself is ‘n paar maal deur leeus aangeval en een maal deur ‘n luiperd wat hom in sy gesig gebyt het sodat sy oog buite gehang het. Genadiglik het hy herstel. 'n Leeuwyfie wat gekwes was het hom eenmaal bespring, maar gelukkig kon hy koes en het sy rakelings oor sy skouer gevlieg. Die leeuwyfie het egter bo-op sy getroue hond beland wat dragtig was. Sy is oopgekloof deur die leeuwyfie se skerp naels en het dit nie gemaak nie, maar die klein hondjies het uitgekruip en het oorleef. Oom Steve het die leeuwyfie geskiet wat toe besig was om die werker te jaag.
Nog ‘n Van der Walt wie se voorsate se stene in die monument verskyn, is mnr. Hendrik van der Walt , wat op die Geloftefeesviering van 16 Desember vanjaar een van die feesgangers was.
Feesganger, mnr. Pieter van der Merwe, wys op sy beurt die twee kremetartbome wat deur sy ma, me. Cina van der Merwe, op die feesterrein in 1973 geplant is. Sy was ‘n nooi Huyser. Die kremetartbome is nou al so tussen vyf en ses meter hoog. Hy wys die ronde sementblad of volkspelebaan wat in 1953 gebou is. Van der Merwe se pa, mnr. PJ L van der Merwe en oupa, mnr. GJ van der Merwe, se stene is in die monument ingebou.
“Die veilingskrale is ongeveer in 1989 na hierdie terrein verskuif. Elke jaar word ‘n geloftefees hier gehou, hoofsaaklik vir die mense van Weipe, Linten, Musina en Mopani. Die saal word ook op Sondae vir buitedienste gebruik, “ sê Van der Merwe. Die terrein beslaan 25 morg in die ou taal, is netjies in stand gehou en beskik ook oor 'n swembad.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
