

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 December 2011
‘n Jong inwoner van Louis Trichardt sukkel nou om snags aan die slaap te raak, nadat sy verlede week die slagoffer van ‘n roof was by haar ouerhuis.
Die 20-jarige Marette Louw was Vrydagaand by die Indaba-woonstelkompleks in Naboomstraat deur rowers voorgelê en aangerand.
Marette, wat by Ocean Basket werk as die bestuurder, was net op pad om die voordeur oop te sluit, toe sy ‘n geluid agter haar hoor. Dit was toe sy omdraai, haar hande nog vol pakkies, dat sy met afgryse sien hoe twee mans haar bestorm. Een rower, vertel Marette, het haar met die vuis teen die kop geslaan, terwyl die ander haar pakkies en sak met haar skootrekenaar en kamera in gegryp het.
“Toe ek besef wat gebeur het ek net in ‘n bondeltjie gaan lê en om hulp geroep,” het Marette gesê.
Gelukkig vir Marette het van die bure in hul woonstelkompleks haar hulpkrete gehoor en tot haar redding gekom. Twee mans wat in die pad by hulle bakkie gestaan en gesels het, het ook gehelp en die twee rowers agterna gesit. Die rowers het egter laat spaander oor die N1 en in die boompark in verdwyn.
Polsie- en dorpswaglede was vinnig op die toneel om te help soek na die misdadigers. Al wat hulle kon kry was een van Marette se pakkies met klere in.
Marette skat dat die waarde van die boewe se buit sowat R10 000 beloop. Die ergste vir haar is egter die feit dat hulle nie net weggekom het met haar beursie wat in die rekenaar se sak was nie, maar ook haar herinneringe. Marette, wat ook ‘n deeltydse ontwerpers-student is, se hele lewe was feitlik op haar skootrekenaar.
“Al my herinneringe van skool, plus my take was op my rekenaar gebêre.”
Marette moes ook Maandag die dorp aandurf om heraansoek te doen vir 'n identiteitsboekie en al haar ander rekeninge te stop.
“Ek is net bly hulle het nie wapens gehad nie,” sê sy.
Makhado polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Maandag bevestig dat ‘n saak van gewone roof geopen is vir verdere ondersoek. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies gemaak nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
