ADVERTISEMENT:

 

Streng borgvoorwaardes vir lugmag korporaal

 

News  Date: 31 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Dawid Ras (32), 'n lugmagkorporaal wat daarvan aangekla word dat hy homself skuldig gemaak het aan korrupsie, omkopery en bedrog, het Dinsdag (28ste) weer hier in die landdroshof verskyn ter aanpassing van sy borgvoorwaardes.

Tydens sy verskyning het die hof gelas dat hy geen kontak mag maak met verskeie besighede en persone, beide in Louis Trichardt en op Lugmagbasis Louis Trichardt. Dit sluit in persele/afdelings op die basis waar hy werksaam was by die aankope-afdeling.

Van die besighede wat se name pertinent genoem word, sluit onder meer in Continental Truck and Bus en Digoro. Beide besighede behoort aan prominente plaaslike besigheidsman, mnr. Ronnie Sutherland. Van die persone met wie hy nie mag kontak maak nie, sluit in sy voormalige direkte hoof op LMB Louis Trichardt, lt-kol. Lee Malan. Dit kon nie bevestig word of die lys besighede en persone by die misdrywe betrokke was nie, en of hulle gevra gaan word om in die saak te getuig.

Dit word beweer dat Ras omkoopgeld en –geskenke ontvang het in ruil vir die toeken van kontrakte. As lid van LMB Louis Trichardt se aankope-afdeling was Ras onder meer verantwoordelik vir die inwin van kwotasies en die toeken van kontrakte. Die saak teen Ras behels 'n ingewikkelde netwerk van beweerde bedrog ten bedrae van digby 'n miljoen rand. Verskeie mense word by die saak geïmpliseer en meer arrestasies word verwag.

Die spilpunt waarom die saak teen Ras egter draai, het te doen met sy se beweerde betrokkenheid by die verkryging en uitleen van die lugmag se Komatsu-stootskraper vir privaat doeleindes, sonder die lugmag se toestemming of wete. Die stootskraper is na bewering, onder voorwendsel dat dit in die proses was om gediens te word, deur 'n plaaslike besigheidsman aangewend vir die voltooiing van 'n ontbossing- en grondverskuiwingskontrak teen 'n beweerde kontant betaling van R480 000.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines