ADVERTISEMENT:

 

Reën, reën, yskoue reën

 

News  Date: 24 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die welkome reën wat die afgelope week oor groot dele van die streek uitgesak het, het opnuut hoop gebring vir die droogtegeteisterde Limpopo Provinsie. Dit was te danke aan 'n ysige koue front wat ongekend is vir Oktobermaand.

Die koue front het einde verlede week die Kaapse kus bereik en haastig oor die binneland inbeweeg. Dié drastiese verandering in weersomstandighede het goeie reënneerslae tot gevolg gehad, wat vanaf Saterdag (18de) tot Dinsdag (21ste) oor die streek voortgeduur het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo het Levubu die hoogste reënvalsyfer opgelewer met 'n totaal van 164,9mm gedurende bogenoemde periode. In die ooreenstemmende tyd is 112,8mm in Thohoyandou gemeet, terwyl Louis Trichardt spog met 'n reënvalsyfer van 72,9mm. Op Musina is 52mm gemeet, terwyl 30,8mm en 17mm onderskeidelik by Tshipise en Bandelierkop aangeteken is.

Die enkele hoogste reënvalsyfer wat die afgelope week by bogenoemde gebiede gemeet is, was 87mm by Levubu op 18 Oktober en 47,5mm by Thohoyandou op 20 Oktober. Op 19 Oktober is 61,2mm op Louis Trichardt, 47mm op Musina, 26,4mm op Tshipise en 9mm op Bandelierkop aangeteken.

Buiten vir die uitsonderlike reën, het die streek ook buitengewone koue weer ervaar. Op Mara is die koudste maksimum temperatuur vir Oktober sedert 1973 gemeet, met 'n dagtemperatuur van 11,7ºC. Die vorige rekord was 11,9ºC. In Thohoyandou is die koudste maksimum temperatuur sedert Oktober 1998 aangeteken. Op 19 Oktober het die kwik slegs gestyg tot 12,7ºC. Wat minimum temperature betref, het die kwik op 20 Oktober tot 9,5ºC op Levubu gedaal. Op die 19de was Thohoyandou se minimum temperatuur 10,3ºC, terwyl die kwik op Musina op 18 Oktober gedaal het tot 11,2ºC. Tshipise se laagste minimum temperatuur die afgelope week was 13,6ºC op die 19de. Die Weerburo meet nie minimum en maksimum temperature op Bandelierkop en Louis Trichardt nie.

Alhoewel die reën welkome verligting gebring het vir veral boere, het die ysige koue tragedie gebring vir veral wild- en veeboere suid van die Soutpansberg.

Talle gevalle van vee- en wildvrektes weens die koue reënweer het in die omgewing van die dorp voorgekom. By die Ben Lavin natuurreservaat is aangemeld dat een koedoekalf, vier njalas en een bosbok reeds gevind is wat vermoedelik weens die koue reënweer gevrek het. Op die plaas Melkhoutkopjes is daar Dinsdag in een kamp vyf bosbokke en 'n koedoekoei dood aangetref. Die ander kampe op die uitgestrekte plaas word nog deursoek. Geaffekteerde boere het die situasie as a ramp beskryf.

Geen berigte van vrektes is vanaf die wildplase noord van die Soutpansberg ontvang nie. Mnr. Seun de Swardt van Musina het by navraag gesê, hoewel snerpende koue weer ook die afgelope week in die omgewing van Musina ondervind is, hy nie bewus van enige vee- of wildvrektes nie.

"Ons omgewing het in Junie bietjie reën gehad en ons voer die wild nog daagliks. Hul kondisie is in die algemeen goed. Dit is normaalweg diere wat weens die uitgerekte droogte reeds verswak het, wat die ergste deur die skielike koue weer getref word."

Mnr. De Swardt sê na die jongste reënneerslae behoort die bosveld binne veertien dae te bot. Dan sal die meeste wild weer kos hê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines