ADVERTISEMENT:

 

Korporaal in hof op klagte van bedrog

 

News  Date: 24 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Twee-en-dertigjarige lugmagkorporaal, kpl. Dawid Ras (32), het verlede Vrydag hier in die plaaslike landdroshof verskyn op klagte van korrupsie, omkopery en bedrog.

Ras se arrestasie en verskyning in die hof volg na 'n lang en uitgebreide ondersoek rakende die toekenning van onder meer instandhoudingskontrakte aan 'n privaat persoon. Dit word beweer dat Ras omkoopgeld en –geskenke ontvang het in die vorm van onder meer 'n 4x4-voertuig en 'n boot, in ruil vir die toeken van kontrakte. Ras werk by Lugmagbasis Louis Trichardt se aankope-afdeling en is onder meer verantwoordelik vir die inwin van kwotasies en die toeken van kontrakte.

Die saak teen Ras behels 'n ingewikkelde netwerk van beweerde bedrog ten bedrae van digby 'n miljoen rand. Verskeie mense word by die saak geïmpliseer, insluitend 'n prominente besigheidsman van die dorp, en die prominente kerkgenootskap, die Sioniste Kerk (ZCC). Meer arrestasies word verwag.

Die spilpunt waarom die saak sal draai is Ras se beweerde betrokkenheid by die verkryging en uitleen van die lugmag se Komatsu-stootskraper vir privaat doeleindes, sonder die lugmag se toestemming of wete. Die stootskraper is na bewering, onder voorwendsel dat dit in die proses was om gediens te word, deur 'n plaaslike besigheidsman vir 'n periode van dertig dae aangewend vir die voltooiing van 'n ontbossing- en grondverskuiwingskontrak vir die Sioniste Kerk naby Chukonbane op die Witvlagpad. Die besigheidsman het na bewering R480 000 in kontant ontvang vir die kontrak. Ras het glo 'n sleutelrol gespeel in die verkryging van die masjien vir die besigheidsman en die daaropvolgende toesmeerdery rondom die aangeleentheid.

Ras se saak is uitgestel na 21 November vanjaar. Volgens ondersoekbeamptes is dit net 'n kwessie van tyd voordat hulle die betrokke besigheidsman vastrek

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines