

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 October 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Jong lugmagman, die 25-jarige sers. Carel Trichardt, is vroeg Woensdagaand (15de) dood, nadat die voertuig waarin hy op reis was in 'n botsing betrokke was met 'n koedoebul.
Die ongeluk het omstreeks 18:30 op die lugmagbasis-pad plaasgevind in die omgewing van die treinbrug.
Na wat verneem word, was Trichardt saam met 'n vriend van hom en die bestuurder van die voertuig, sers. Robert Holliman, vanaf die basis in die rigting van Louis Trichardt op reis. 'n Koedoebul het voor hulle die pad in geloop, waarna hulle die bul op spoed getref het. Die koedoebul het feitlik die hele dak van die voertuig waarin hulle op reis was, afgeruk. Trichardt is op slag dood, terwyl Holliman met ernstige hoofbeserings afgevoer is na 1 Militêre Hospitaal. 'n Woordvoerder van LMB Louis Trichardt het Dinsdag gesê dat Holliman steeds in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal is, maar dat sy toestand stabiel is.
Trichardt is verplaas na 3 Lugversieningseenheid op LMB Louis Trichardt in April 1999, waar hy werksaam was by die Elektroniese Oorlogvoeringafdeling. Gedurende Mei vanjaar is hy na die Kern Avion Afdeling verskuif, waar hy kruisopleiding ondergaan het op die instrumente, navigasie en wapenstelsel van die Cheetah C- en D-vegvliegtuig. Hy was ongetroud en word Donderdag (vandag) om 10:00 vanuit die N. G. Kerk Waterberg-gemeente in Nylstroom begrawe.

ADVERTISEMENT:
